PZN

21 05 2008

Soos wat ek deur die blogosfeer dwaal lees ek dikwels inskrywings oor die hele Steve-Natasha-Janine-ding.  Ek sien Janine blog nou by Bosparra.  Ek sien almal baklei oor en weer.  Elke kant stel sy saak en is op aanval en verdediging.  In die algemeen dink baie sy’s sletterig, ander sê sy’s misbruik.  Die Steve-aanhangers se reaksie teenoor hom wissel van teleurgesteld in hom tot die wat hom afgeskryf het (sommige van hulle nou “boesemvriende” met Janine), en dan natuurlik die wat nie sal ophou glo in hom en sy bedoelings nie. 

 

‘n Hele paar jaar terug het Bles Bridges ook groener weivelde gesoek.  Ek wonder wat mense se reaksie sou wees as hy daai tyd ‘n blog moes gehad het.  Ek dink dit sou seker min of meer dieselfde uitwerking gehad het.  Bill Clinton, Jimmy Swaggart… nog omies wat aan die oorkant van die pad gaan wei het. 

 

Blykbaar gaan Janine ‘n biografie uitbring.  Ek weet nie of dit net ‘n grap is nie, maar as dit nie is nie wonder ek net wie gaan dit koop?  Wie WIL dit lees?  Die hele storie is nou al klaar holruggery, selfs die media het nie veel meer om te sê nie.  As dit uitkom dat Steve wou gehad het sy moes ‘n aborsie hê, as hy haar misbruik het, haar wou verkoop aan reisende slawehandelaars, as hy wou gehad het sy moes net pienk dra, as sy skelm sy kinders geknyp het, as as as…Mense se opinies gaan waarskynlik nogsteeds dieselfde bly.  Steve gaan nie minder beroemd wees nie, hy gaan nogsteeds CD’s verkoop, nogsteeds geld maak, nogsteeds aangaan.  Gee mense werklik om wat gebeur het.  Wil mense die onbelangrike details hê?  Wil jy weet wie is die meer skuldige een, die swartste een, wie wat gedoen het vir hoe lank? 

 

Oom Bles het sy vrou verneuk en mense onthou hom op die ou einde nogsteeds.  Ek onthou die ander vrou se naam was Marietjie.  Wie sy was, of sy ‘n IK van meer as 70 gehad het, wat sy van gehou het, hoekom sy gedoen het wat sy gedoen het maak nie saak nie.  Ons onthou vir Bles.  Ons onthou sy rooi rose en Ruiter van die windjie.  Nou het Steve sy vrou verneuk en mense gaan hom ook bly onthou.  Janine se naam gaan ‘n vae herinnering word, mense gaan nogsteeds dronk word op die Bloubul en vrouens nogsteeds gil by Steve se shows.  Steve gaan nogsteeds die letsels van hierdie episode en sy operasie hê, petrol gaan nogsteeds duurder word, Natasha en Janine nogsteeds hartseer word en mense gaan nogsteeds Steve se naam gebruik om vir hulself ‘n paar rand in die sak te bring. 

 

 Ek kies nie kant nie, ek wens hulle altwee sterkte en voorspoed toe en ek hoop hulle het altwee lesse geleer uit die foute wat hulle gemaak het of nie gemaak het nie, of dalk gemaak het.  Ek wens net die storie wil nou heeltemal klaar raak.




Warning: Baby on Board

20 05 2008

Partykeer huil swanger vrouens omdat hulle wederhelftes die verkeerde kos of koeldrank gekoop het.  Partykeer as ‘n swanger vrou bemoerd is gooi sy haar wederhelfde met die rou wors wat sy nou net uit die pakkie gehaal het.  Die hele string.  En daarna huil sy omdat sy nie wil hê hy moet eendag vir die baba vertel dat sy hom met die wors gegooi het nie.  En dan bring hy vir haar koeldrank en sê hy sal nie sê nie.  En dan lief sy hom so bietjie meer.

 




Freedom se Exodus

19 05 2008

Eendag nie so lank gelede nie was daar ‘n jong man.  Sy naam was Freedom.  Freedom het in Rhodes se land gebly.  Die land was regeer deur ‘n nare Koning.  Koning Moeg Apie.  Koning Moeg Apie het in weelde gelewe terwyl die mense in sy land al hoe swaarder begin kry het.  

 

Hulle moes later mandjies vol geld vir ‘n brood veruil net om te kon oorleef.  Die koning het nie omgegee nie.  Hy het net aan homself gedink.  Hy het nie omgegee hoeveel mense doodgaan nie.  Hy het nie omgegee hoeveel mense seerkry nie. 

 

Freedom het gehoor van ‘n Suiderland waar daar kos was en waar mense bevry was.  Hy en sy vrou Mara het met hul jong seun, Peace, begin regmaak om na die land van vrede te gaan.  Hulle het dit wat nog van hul besittings oorgebly het in ‘n sak gepak en begin loop.  Hulle was honger en moeg toe hulle uiteindelik by die rivier kom en hulle die Suiderland kon sien.  Hulle het deur die rivier gesukkel en deur ‘n heining geklim tot binne in die land waar hulle kos sou hê.  Hulle het nie omgegee om nog een laaste aand honger te gaan slaap nie.  Peace het gehuil en hulle het hom getroos en seker gemaak dat hy warm is.  Dit was die laaste aand van sukkel.  Van hier af sou dit beter gaan.  Freedom en sy familie het in die stad aangekom.  Hulle was gou teleurgesteld dat dinge nie so wonderlik was soos wat hulle verwag het nie, maar dit was darem beter as om terug huis toe te gaan.  Hier was darem kos en so nou en dan ‘n los werkie vir hulle om te doen.

 

Die mense van Suiderland het nie baie van vreemdelinge gehou nie.  Hulle wou nie deel wat hulle gehad het nie en die koning van Suiderland en sy raadgewers wou nie ‘n plan maak om vir Freedom en sy mense te help nie.
 
Die mense van Suiderland het kwaad geword.  Freedom en sy familie is seergemaak.  Hulle moes vlug.  Mara en Peace kon wegkom.

 

  

 

 

 

Hulle moes ‘n nuwe plek soek om te bly.  Hulle wou gehad het Freedom moes saamkom, maar van die Suiderlandse mense het besluit hy moes bly.  Hy moes ly vir ander mense se foute, besluiteloosheid en gierigheid.  Freedom is doodgemaak.  Niemand het vir altyd verder gelukkig gebly nie.  Niemand nie.  

 

 

 

 

 

 

 

 




Orgaan Orkaan

15 05 2008

Sy sê vanoggend “Daar is nie ‘n manier wat ek ooit organe sal skenk nie”.  Haar antwoord to ek wou weet hoekom nie.  “Ek is te rassisties.  Hoekom moet ek een van my organe gee sodat ‘n kaffer langer kan lewe?”

 

Ek het nie geweet wat om te sê nie.  Ek weet gewoonlik nie wat om te sê as ek nie saam met mense stem nie.  Ek bly maar stil en hoop dat ek die een is wat beter weet. 

 

Ek is grootgemaak in ‘n huis waar mense nie rassisties was nie.  My ouers is nie rassisties nie.  My grootouers dalk.  Ek was nooit rassisties nie.  Ek wonder of die gepropageerde vlaag van nuwe ‘nasionalisme’ vir die nuwe Suid-Afrika wat ons almal probeer deel het nie stadig besig is om weg te kwyn nie.  Elke plaasmoord, elke tienerdogter wat verkrag word, elke baba wat doodgeskiet word op haar ma se skoot, elke ouma en oupa wie gehang word… laat my voel asof ek wil-wil regs draai op hierdie pad wat ons ‘versoening’ noem. 

 

Is dit omdat daar meer swartes in hierdie land is dat dit voel asof ‘almal’ geweldadige verkragters en moordenaars is?  Ek haat dit om elke sekonde oor my skouer te loer en te wag vir my beurt om verkrag te word, beroof te word, vermoor te word.  Ek het myself nog nooit beskou as ‘n rassis nie.  Ek wil nie rassisties wees nie.  Dalk is my idee van iemand wat rassisties is verkeerd.  Ek dink ons almal is in ‘n mate rassisties.  Dis myns insiens net natuurlik vir soort om soort te soek. 

 

Ek wil nie treinspore opblaas en in Skielik in ‘n plek instap en mense begin doodskiet omdat hulle van ‘n ander ras is nie.  Ek wil niemand seermaak nie, ek wens niks slegs vir iemand anders toe nie.  Ek wil net kan slaap in die aand sonder om twee keer seker te maak dat al die deure gesluit is.  Ek wil met ‘n oop venster op ‘n somersdag by ‘n verkeerslig stop sonder om te wonder wat hulle nou gaan gryp.  Ek wil ophou om my selfoon weg te steek en seker te maak alles is weggebêre as ek ‘n swart man in die stad sien aanloop na my kant toe.  Ek weet dis nie net swartes wat steel, moor, verkrag, afbreek nie.  Ek weet dit.  Ek wil gee.  Of dit nou ‘n orgaan is, geld is, kos is, enige iets wat ek kan.  Ek wil net nie hê dit moet afgevat word nie.

 

P.S.  Ek is geregistreer as ‘n orgaanskenker.  As jy meer wil uitvind, gaan loer gerus hier.




Humor

13 05 2008

Ons Afrikaners is darem ‘n snaakse nasie.  Die vreemdste sin vir humor.  Maak nie saak hoe groot die krisis of probleem nie, daar word altyd ‘n grap van gemaak.  Nou dat ek daaraan dink is dit waarskynlik nie net ons nasie nie, maar ander ook. 

 

  • Ek onthou ‘n paar jaar terug was daar vloede in Mosambiek.  Die mense het in bome gesit en ‘n vrou moes selfs in ‘n boom kraam.  Mense het grappe gemaak en gevra wat groen met baie oë is.  Die antwoord was ‘n boom in Mosambiek. 
  • Toe Prinses Diana dood is het mense gevra wat die laaste drankie was wat sy geniet het.  ‘n Harvey Wallbanger.
  • Ek sien nou weer met die dat Steve Hofmeyr in die hospitaal was met sy operasie.  Die sms’e kom nou weer deur wat bevestig dat Steve regtig ernstig siek was omdat net twee van die verpleegsters swanger is. 
  • Met die Jurie Els - Robbie Klay stories was daar so baie grappe gemaak.  Jurie kon nie sing nie want hy’t Klay in sy mond gehad ens. 

Daar is grappe oor die situasie in Zimbabwe - Mugabe gaan die Blou Bulle afrig sodat hulle nie hul telling aan die einde van ‘n wedstryd bekend hoef te maak nie.  Daar was grappe oor Jacob Zuma en sy storteskapades.  Grappe oor Osama Bin Laden, oor tsunami’s. 

Ek wonder of ons dit opsetlik doen.  Of dit ‘n situasie minder ongemaklik maak as mens ‘n grap daarvan maak?  Smeer dit ‘n probleem toe of maak dit alles net makliker om te hanteer? 

 

 




Brief in, brief out

21 04 2008

Hopelik het ek nou klaar gemoan vir ‘n rukkie.  Dinge gaan bietjie beter.  Ek kan asemhaal. 

 

Die baba kom in November as alles goed verloop.  Omdat ons nog nie weet of dit ‘n hy of ‘n sy is nie, heet die dingetjie vir nou Stoffel.  Die ander helfte wil die horries kry as ek na die baba as Stoffel verwys, maar dis nou maar hoe dit is.  As my ma bel vra sy hoe dit met Stoffel gaan.  Ons het die naweke op name besluit.  Dis waarskynlik nie vir almal ewe mooi nie, maar ons het gecompromise sover op twee meisie en twee seuns name. 

Meisiename:  Tatiana Azaria

Seunsname:  Kenrick Matthew

 

Soos wat ek myself ken gaan die name nog ‘n duisend keer verander voordat Stoffeltjie sy/haar opwagting maak.  Stoffel is veronderstel om al meer as 3cm groot te wees.  Behalwe vir die feit dat ek ooremosioneel is en dat alles stink (koffie, pasteie, kos, petrol, enige iets) verloop alles goed.  Ons het Stoffel se hartklop gehoor toe ons laas maand by die dokter was.  Dit was amazing.  ‘n Hele 141 “beats” per minuut. 

 

Wat moet gebeur, sal gebeur.




The Great Escape

11 04 2008

Hierdie blog was vir so lank my uitlaatklep.  Een wat ek vir die laaste ruk verskriklik afskeep.  Ek is jammer.  Persoonlike blogs wat net gaan oor ‘n gekerm oor hoe sleg die lewe is werk nie vir my nie.

 

Ek dink ek maak reg om oor ‘n paar maande ‘n enkelma te wees.  Ek is moeg.  Dit gaan kak by die huis.  Ek kan nie dink hoe om dit mooier te stel nie.  Sal ek my kind ‘n onreg aandoen om te loop?  Sal ek goed genoeg vir hom/haar kan sorg?  Dinge gaan rerig nie goed nie en ek weet nie wat om te doen nie.  Ek is besig om my escape te beplan vir die einde van die maand (Dit klink verskriklik om dit so te stel).  Ek kan nie nou loop nie, moet wag vir my salaris.  Ek is doodmoeg en verby gatvol.  Kan ‘n mens regtig iets laat werk wat nie meer reg voel nie?  Iets wat jou stukkie vir stukkie doodmaak elke dag?  Dalk is ek besig om te oorreageer.  Moet ek nie maar wag en dinge probeer uitsorteer nie.  Ek weet dit sal nooit werk nie.  Ek kan nie vir iemand anders sorg wat nie ‘n plan wil maak om by te dra nie.  Ek kan nie die enigste verantwoordelike, rasionele persoon in ‘n verhouding wees nie.  Ek voel soos ‘n dier in ‘n hok wat nie kan wag om te ontsnap of vrygelaat te word nie.  Ek sal nie vir ‘n aborsie gaan nie.  Ek weet nie watter kant toe nie.  Ek wil nie loop net om omgepraat te word en later weer terug te gaan nie.  As ek gaan moet dit klaar wees, verby wees, finaal.  Ek wil asem haal.  Ek versmoor.  Enige iemand met raad?  Ek dink ek weet seker klaar wat ek moet doen, ek soek seker net confirmation of dalk ‘n goeie uitskel om my by te kry?  Enige iemand?




Hoekom?

27 03 2008

Ek weet ek blog te min.  Heeltemal te min.   Met die nuus van die baba wat oppad is is my kop heeldag besig.  Eintlik dink ek moet net die nuus ignoreer.  Dit onstel my verskriklik.  Die hele Sheldean Human storie wat nou weer so in die nuus is en dan ook die volgende artikel deur Francois Oosthuizen in die Beeld:

6 keer lewenslank ná hy sy dogter verkrag:

Die man wat sy sesjarige dogtertjie oor ’n tydperk van vier jaar verkrag en foto’s daarvan geneem het, is gister in die Johannesburgse hooggeregshof tot ses keer lewenslange tronkstraf gevonnis.

Hy moet ’n bykomende 14 jaar tronkstraf uitdien vir onsedelike aanranding, oortredings van die Film- en Publikasiewet en crimen injuria.

Regter Naren Pandya het in sy uitspraak uit verskeie hofsake aangehaal en gesê verkragting is ’n kanker wat die samelewing verteer. “Dit is verskriklik dat kinders nie veilig is om vry en sonder vrees te leef nie.”

Volgens Pandya was die man se sielkundige verslag kripties en deurmekaar en kon dit nie tot versagtende omstandighede bydra nie.

Die man beweer in dié verslag hy is as kind verskeie kere gemolesteer deur die huismoeder van die kinderhuis waar hy gebly het.

Dit kon nie bewys word nie.

“Selfs al kan die beskuldigde se misdade aan sy verlede gekoppel word, verklaar dit nie hoekom hy foto’s van die seksuele misdrywe geneem het nie,” het Pandya gesê.

Die voorvalle, wat tussen 2002 en 2006 plaasgevind het, is deur die meisie se ma afgeneem en die foto’s daarvan is op DVD gestoor.

Die ma, wat op dieselfde aanklagte tereggestaan het, het intussen ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.

Dit was nie die eerste keer dat dié man hom aan seksuele misdade skuldig gemaak het nie.

Hy is in 1990 skuldig bevind aan die onsedelike aanranding van sy dogter (6) uit ’n vorige huwelik.

Volgens die meisie se pleegma is hulle tevrede met die hofuitspraak.

Sulke artikels ontstel my geweldig erg.  Ek is bang ek sal nie my kinders kan beskerm teen iemand wat hulle onskuld so wil wegvat nie.  Hoe beskerm mens jou kinders?  En hoe doen mens dit sonder om oorbeskermend te wees?  Bid?  Baie bid?  Ek word naar as ek sulke goed lees.  Ek kan net nie verstaan watter tipe mense sulke goed doen nie.  Ek wonder of ‘n mens veronderstel is om te verstaan.  Dis vir my verskriklik dat die meeste van hierdie molesteerders en verkragters beweer dat dit met hulle ook gebeur het as kinders.  As jy dan weet hoe dit voel, hoekom doen jy dit dan?  Hoekom, hoekom, hoekom.




1+1=2 (UPDATE)

12 03 2008

Daar was 2 strepies…

test.jpg

 

Ek is baie deurmekaar.

 

Update:

Die dokter het vanoggend die uitslae van Vrydag se bloedtoets gegee.  Dit is bevestig.  Ek was Vrydag net oor 5 weke swanger.  Dit sink nou eers in. 




‘n Kwart Eeu

10 03 2008

bd.jpg

Ek weet nie of ek moet lag of huil nie…




Vinnige Vraag

4 03 2008

Net gou ‘n vinnige vraag.  As jy weet iemand se man verneuk hulle, en dis net ‘n kennis van jou, is jy veronderstel om dit vir hulle te sê, of moet jy eerder nie inmeng nie.  Sou jy wou weet? 

 questionmark.jpg




Stink jy of bloei jy?

26 02 2008

Ek weet mens moenie kla nie, maar… Ek is so gatvol vir die advertensies op TV.  Ons het nie die ‘luxury’ van DSTV nie, so SABC en E-TV moet maar doen.  Ek het darem nou al geleer om nie te eet voor die TV as daar ‘n advertensie opkom nie, want jy is amper gewaarborg om een van die volgende te sien:

  • ‘n Klein Sjinees op ‘n toilet wat aangaan oor hoe hy stink.
  • ‘n Vrou wat tampons of doekies adverteer terwyl sy in ‘n wit broek rondspring.
  • ‘n Advertensie vir ‘erectile dysfunction’ waar ‘n vrou haar man by die huis uitjaag omdat hy nie ‘kan’ nie. 
  • Een of ander simulasie van ‘n baba se doek en hoe absorberend dit kan wees vir nommer een en nommer twee.
  • Een of ander maergat girl wat ‘poefiepap’ of Bioslim adverteer. 
  • Sms-klubs met allerhande ‘crap’ wat jy kan aflaai - van foto’s tot die geluid van ‘n baba wat poep of huil.
  • ‘n Deodorant wat vrouens soos vlieë na mans toe lok.
  • ‘n Lakseermiddel advertensie waar iemand aangaan oor hoe ‘regular’ hulle is vandat hulle hierdie middel gebruik.  Dis amper so erg soos die ‘poefiepap’.
  • ‘n Dansende meerkat.
  • ‘n Pizza-vretende ‘cartoon’ gesin met vreemde aksente.

Ek voel al asof die hele land bloei, huil, baba’s het, kokkerotte het, stink, nie kan toilet toe gaan nie en nie kan seks hê nie.  Make it stop.

Daar is darem seker ‘n paar goeie advertensies ook.  Ek is mal oor die Savanna-advertensies (It’s the peanuts, they’re complimentary).  Ek is seker daar’s nog ‘n paar goeies as ek mooi dink.  Ek sukkel net om oor al die wat my irriteer te kom.  Ek onthou ‘n hele paar jaar terug was my gunsteling advertensie ‘n Volkswagen een met die Volla en een van Andre de Villiers se songs (ek dink).  I remember the days of my life, I recall new faces, mostly yours… daai een. 

Ek kom toevallig op hierdie ou advertensies af - ek neem aan dis Amerikaanse advertensies:

ad3.jpgad5.jpg

Die advertensies daardie tyd was seker ook nie veel beter nie.  Hier is ‘n paar ou Suid-Afrikaanse radio advertensies.




WIEGELIED

22 02 2008

miscarriage.jpg

My baby,

Dis vandag presies 6 jaar terug dat jy van my weggevat is.  Ek verlang na jou al het ek nooit kans gehad om jou vas te hou, jou te ruik, jou toe te draai en beskerm nie.  Ek het al gesien hoe ek na jou kyk as jy slaap en dankie sê dat jy myne is.  Dis ‘n vreemde soort verlang.  Mense verstaan nie.  Dis ‘n alleen verlang.  Dis ‘n verlang wat my laat huil as ek iemand anders se baba vasgehou het.  Dis ‘n verlang wat my hart laat pyn as ek ‘n baba in die winkel sien.  Jou Ouma het toe sy uitgevind het dat jy nie meer binne my groei nie probeer troos en gesê ek moenie bekommerd wees nie, ek sal weer swanger word en weer kinders kan hê.  Die troos het nie veel gehelp nie.  Ek het haar gevra hoe sy sou voel as een van haar 4 kinders moet doodgaan en iemand probeer troos deur te sê daar is darem nog 3 ander oor.  Seker nie heeltemal dieselfde ding nie, maar seer bly seer, dood bly dood, verlang bly verlang.  Ek was so opgewonde toe ek uitvind dat jy in my groei, opgewonde en bang.  Ons het vir jou ‘n kot gekoop, die mooiste hout kot en alles begin regkry, al was dit nog lank voordat jy gebore moes word.  Jou pa het gehuil toe ek uit die hospitaal gekom het na die miskraam.  Ons is nie meer saam nie, vir die beste.  Ek kan nie glo dis al 6 jaar terug nie.  Daar is soveel wat ek vir jou wou leer, soveel wat ek vir jou wou sê, soveel wat ek vir jou wou gee.  Ek raak altyd hartseer hierdie tyd van die jaar.  Die dokters het dit ‘n Spontane Aborsie genoem.  Ek kon daai woorde nie vergeet nie.  Dit het soveel erger as miskraam geklink.  Dit het my laat voel dat als my skuld was. 

Mense sê “Get over it”, vergeet daarvan, God se planne is duister, dit het vir ‘n doel gebeur.  Ek knik maar net my kop.  Niks kan verander wat gebeur het nie, ek kan dit nie beter maak nie, niemand kan nie.  Ek wil huil oor jou as ek so voel.  Soos nou… Ek hou al solank vas aan die seer en nie huil en vrede maak nie omdat mense my laat voel het ek mag nie oor jou huil nie, ek moet sterk wees, ek mag nie voel nie.  Ek voel vandag ek wil klaar oor jou huil en ek wil laat gaan.  Ek sal waarskynlik nog so nou en dan huil, ek sal elke jaar jou weggaan onthou, ek sal altyd weet dat jy daar was.  Ek kan net nie meer bly terugdink en myself verwyt oor wat ek verkeerd moes gedoen het om te verdien wat gebeur het nie, ek wil hierdie hoofstuk afsluit. 

Rus sag my baby, ek lief jou en mis jou,

(amper)Mamma




M.I.A.

20 02 2008

Terwyl ek so bietjie missing in action was het die volgende gebeur:

  • Ek het brongitis gehad - erg.
  • Ek het opgehou om die troue te reel, vir ‘n rukkie in elkgeval, sal seker later weer daaroor dink en reel, as ek wil.
  • Ek het nou nog nie alles uitgepak met die trekkery saam nie, die spaarkamer lyk soos voor die skepping.
  • Ek het uitgevind dat dit moeilik is om met iemand anders se geheime rond te loop en niks te mag sê nie, om goed as gevolg daarvan te moet wegsteek vir ander mense, veral as dit mense is wat saam met jou werk en veral as hulle jou blog lees.  Dit klink deurmekaar. 
  • Ek het hopeloos te min blogs gelees. 
  • Ek het besluit om ‘n plan te maak om meer te blog ;)



‘n Nuwe Begin

29 01 2008

boks.jpg
Ek en die liefde begin vandag in ons nuwe plekkie intrek.  Bliksem maar dis duur om in Centurion te huur.  Dis vir ons altwee ‘n nuwe begin.  Ek kan nie meer wag nie.  Ons het vandag die sleutel gekry en gaan sommer vanaand solank begin trek en op ‘n matras slaap en piekniek hou.  Ek weet nie eers of die krag al aangesit is nie.  Nie dat dit veel saak maak met Eskom se aan-af-aan-af-krag nie.  Al ons goed is by familielede gestoor en ons moet omtrent rondskarrel om te reël dat ons die goed kan terugkry.  Kos is gelukkig nie ‘n probleem nie.  Ek het laas week by die karaoke die volgende gewen (laat net een Da Mario donner lag) :
  • 1 x Blikkie Pilchards
  • 3 Pakkies koekies
  • 1 x Black Cat Peanut Butter
  • 1 x Marmite
  • 1 x Pakkie 2-minute Noodles
  • 1 x Pakkie Vogue Slims
  • Baie Wilson Toffies (Banana)
  • 1 x Blikkie Koffie
  • 1 x Bottel All Gold Tamatiesous

Ek weet nie hoekom hulle dit as ‘n prys by karaoke het nie, en ook nie hoekom hulle gesê het dis ‘n week se ‘groceries’ nie, maar ek en Da Mario het gegrap dat daar nog net ‘n bottel spirits en ‘n ‘half loaf’ kort.  Ai. 

En nou soek ek so ene:

puppy.jpg




Liefdesdriehoekoplossing

24 01 2008

Na die hele Steve liefdesdriehoek-oefening het ek gedink dit kan nie so moeilik wees om te besluit wie ‘n mens wil hê nie.  ‘n Mens kan jouself baie moeite spaar en so situasie heeltemal vermy, dis heel eenvoudig.  So daar is drie van julle.  Jy moet kies tussen twee.  Jy wil weet dit gaan werk.  Jy’s te lui om ‘n compatibility-quiz in die Cosmopolitan te doen.  So wat nou? 

Die antwoord lê by die Love Calculator.  ‘n Liefde sompompie.  Heel eenvoudig.  Tik jou en een van jou twee (dalk meer) keuses se name in die blokkies in.  Kliek op ‘calculate’ en siedaar.  Die Love Calculator het vir jou uitgewerk wat die kans is dat jou en die ander persoon se verhouding kan werk.  Om te illustreer hoe eenvoudig dit is kom ons gebruik dan nou maar vir Steve as ‘n voorbeeld. 

Stap 1:

Tik Steve Hofmeyr en Natasha Sutherland se name in die onderskeie blokkies in.  Calculate en siedaar… hulle het ‘n 76% kans om dinge te laat werk.

Stap 2:

Tik Steve Hofmeyr en Janine Van der Vyver se name in die blokkies.  Calculate en… hulle het ‘n 23% kans om ‘n verhouding te laat werk. 

So Natasha is die logiese opsie.  Steve en Nataniël het met 52% ‘n beter kans om dinge te laat werk as wat Janine gehad het. 

Brad en Jennifer het ‘n 58% kans gehad.  Brad en Angelina ‘n 77% kans op sukses.  

As dit maar net so eenvoudig was… 




Mag ‘n mens moffie sê?

21 01 2008

Ek sit en wil nog skryf oor Steve en alles wat daarmee gepaard gaan.  My beskeie opinie gee, en toe bel my ma.  My jongste boetie het teruggekom van die Kaap af.  Ons het hom Donderdag op die stasie gaan haal.  Almal het nog altyd geweet hy’s gay.  Ek dink die familie het seker maar gehoop dis net ‘n fase en vir hulself agter bak skinderhande gesê “this too shall pass”.  Well, die enigste ding wat gepass het is nog ‘n jaar en hy’s nou EERS gay.  Voorheen was dit nie so oplettend nie.  Ek het nog altyd gedink/gehoop dat ek redelik oopkop is, dat ek myself in ander se posisies kan plaas en dan oordeel en besluit, maar nou… ’n Mens kan nou sien my boetie is gay.  Ek weet nie of dit polities korrek is om te sê dat hy fyner is as ‘n jaar terug en dat hy sommer net gay lyk nie.  Ek weet nie wat is die polities korrekte terme om te verwys na mense wat homoseksueel is nie.  Ek weet nie of dit my meer pla of ek polities korrek is of nie.  My een broer is ‘n moffie en die ander een nogals ‘n ekstremistiese Christen.  Mens mag seker nie sê moffie nie?  Ek weet nie.  My ander broer kan leliker woorde as moffie gebruik om sy jongste broer te beskryf.  Ek weet niks nie.  Moet ek sê gay, homoseksueel, moffie? Mens word groot dat “sulke mense” moffies is.  Nikse ge’sugar-coating’ nie.  Ek weet nie of as ek in sy skoene was of dit my sou gepla het as iemand na my as ‘n moffie verwys nie.  Dit sou wel as hulle ander verwysings gebruik het.  Die familie sukkel hulle gatte af (no pun intended) om dit te aanvaar.  Ek dink ek is heel okay daarmee.  Inteendeel, my jongste broer is die persoon op aarde vir wie ek die meeste bewondering het.  Hy het al soveel deurgemaak en staan altyd weer op. 

Kies ‘n mens om gay te wees?  Hy bly nou by my ma en haar vriend/boyfriend/stukkie (ek weet ook nie hoe om na hom te verwys nie)  sukkel nog erger as my ma om dit te aanvaar.  Die oom is al amper sestig.  My ma was nog altyd iemand wat ons probeer leer het om ‘oopkop’ te wees, maar sê self dat hierdie een ding is wat sy nie kan verstaan nie.  Sy dink hy’t gekies om gay te wees.  Ek weet nie? Sy is nog lief vir hom, maar sy is ongemaklik met die leefstyl wat hy uitleef.  Ek verstaan wat sy bedoel.  My broer bring iemand huis toe oor die naweek wat oorgeslaap het.  Ek het maar voorgestel sy praat met hom daaroor op ‘n mooi manier en verduidelik dat dit nie iets is wat sy in haar huis wil hê nie.  Nie op ‘n bakleierige manier nie, maar dat sy dit op ‘n mooi manier vir hom verduidelik.  Ek weet nie wat om anders te doen nie.  Ek weet net dat ek verstaan dat sy en die oom die huur betaal en dat hulle nie nodig het om ongemaklik in hul eie plek te wees nie.  Ek sou nie wou nie.  Ek het nie ‘n probleem daarmee dat my broer mans bo vrouens verkies nie.  Ek dink dis dalk net die feit dat dit iets is wat sosiaal nog nie so aanvaarbaar is nie, en dat ons ongemaklik daarmee voel.  Ek en hy gaan nogsteeds uit, dans saam die “macarena”, kuier saam.  Hy’s my hart se punt.  Ek sukkel net om te weet hoe ek veronderstel is om dit alles te aanvaar.  Ek dink nie dis die feit dat hy gay is wat my pla nie, dalk is dit net dat ek nie wil sien hoe hy iets met ‘n ander man doen nie.  Ek wil ook nie juis graag sien hoe my ander broer iets met ‘n vrou doen nie.  My suster en haar boyfriend se gevryery is al klaar erg genoeg.  Moet ons maar net aanpas by dit wat hy glo en wil doen?

‘n Mens word geleer dat dit onnatuurlik is om homoseksueel te wees, dat dit onrein is en dat God jou sal straf.  Dalk is dit hoekom mens so sukkel om dit te vereenselwig met die mense vir wie jy lief is.  Ek is nie iemand wat die Bybel aanhaal nie.  Mense lees baie keer net wat hulle wil daarin.  Elkeen het sy eie interpretasie. 

My hoop vir my broer is dat hy iemand sal kry wat hom sal liefhê en sal oppas, iemand vir wie hy kan liefwees en wat hom sal oppas.   Ek gee nie om of dit ‘n man of ‘n vrou is nie.  Ek wens vir hom geluk en dat sy pyn sal ophou. 




Multi-tasking

14 01 2008

So hierdie is my eerste inskrywing vir 2008.  Werk hou my besig. 

Dis nie ‘fun’ om ‘n troue te reël nie.  Almal wil help, almal het hulle eie idees, min hou van jou idees, sale is klaar bespreek, ma’s wil pêreltjies op jou rok vaswerk, skoonfamilie wil die ‘DJ’ wees en aanstaandes wil spitbraaie hou.  Soveel moeite vir een dag. 

 Mense wat nie van mekaar hou nie moet in ag geneem word met die gastelys, almal se geite en voorkeure moet voor ge’cater’ word.  Ek doen dit wragtig nie weer nie.




Geluk Sophia, mag jy Salig Rus.

31 12 2007

Kersfees is verby en dis die laaste dag van die jaar.  Ek het vir die eerste keer in ‘n lang ruk gou ‘n draai op facebook gaan maak.  Vir twee redes. 

Rede no 1:

Ek is mal oor Noot vir Noot.  Ek kan verby Johan Stemmet se bont klere en Rian van Rensburg se spastiese tromspelery kyk en actually saamspeel.  Die probleem is net dat ek nooit iewers is op ‘n Vrydagaand waar ander mense dit wil kyk nie, so ek mis dit altyd, behalwe vir laasweek Vrydag.  Ek was verheug.  Johan groet die deelnemers… en daar is net iets van die een girl wat my pla.  Waar het ek haar al gesien?  Hoekom lyk sy so bekend.  Toe hoor ek haar naam en om een of ander rede maak dit sin.  Dit was Sophia van Taak.  Ek het nog net een keer van Sophia iets gelees, en dit was op Johannes de Villiers se facebook-profile.  Lyk my hy het ‘n ding vir Noot vir Noot deelnemers, of hulle vir hom.  Die foto is op sy profile van hom en Sophia, dis ‘n eks van hom:

sophiajohannes.jpg

 Die comments wat hulle twee op hierdie foto gemaak het is eintlik wat ek onthou het.  Ek wou my doodlag.  Hy’t gesê haar asem stink, sy’t gesê sy was moeg daarvoor dat hy sy My Little Pony Collection orals wou saamsleep.  Hy’t gesê sy’t as hy nie by die huis was nie die huis skoongemaak in sy ou onderbroeke.  En nou’s sy op Noot vir Noot.  Die blogosfeer is klein.  Ek hou nie van Daantjie Dinamiet nie, so toe ek sien dat daar op facebook ‘n “Move over Daantjie Dinamiet, Sophia van Taak is in town”-groep is, moes ek net join.  So gaan loer ek toe op Sophia se profile, net om te sien ons het ‘n facebook-friend in gemeen.  Sy naam is Eddie Lomas, hy was saam met my op laerskool.   Ek wonder hoe hulle mekaar ken?  Die wêreld is klein.  

Rede 2 vir my facebook-besoek:

Ek het my relationship-status na engaged verander.

HAPPY NEW YEAR! 




Merrie Krismis

24 12 2007

funnysanta01.jpg