Tyd vlieg

2 07 2009

Die tyd vlieg so vinnig verby.  Oor 2 en ‘n half maande is Dianay al ‘n jaar oud.  Ek kan dit nie glo nie.  Sy lyk so ougat met haar twee tandjies en sy lag vir alles.  Haar loopring is haar beste vriend en as ons by die huis kom in die aand en sy in die loopring is hardloop sy eerste na die stoof toe om met haar weerkaatsing te gesels. Alles is net dadadadada, sy klink soos ‘n masjiengeweer soos sy ddddaddddadddaddda.  Ek het ook nie geweet ek is so snaaks nie.

Die winter is aaklig met haar.  Sy was al ‘n paar keer siek en ek voel so sleg om haar te bad en aan- en uit te trek in die koue.  Ek het nou die dag weer na my baba foto’s gekyk en dit is ’scary’ hoe baie sy lyk soos wat ek gelyk het toe ek ‘n baba was.  Dit laat my altyd wonder of dit is hoe my ma gevoel het toe sy my gehad het.  Toe ek so oud soos Dianay was, was my ma al 4 maande swanger met my sussie.  My ma het altyd gesê die dag wat jy jou kind in jou arms vashou vergewe jy jou ouers baie dinge.  Ek het nie besef hoe waar dit was tot nou nie.

Anja Baba0001





Vir my Lief

25 06 2009

Dankie dat jy wanneer ek siek is vir Dianay aan die slaap maak in die aand.  Skipskop het nog nooit so mooi geklink soos wanneer jy dit as ‘n lullaby vir haar sing nie.  Ek lief jou oneindig baie.

Image0003





Amper daar

22 06 2009
  • Een van die dae gaan ons 5 uur in die oggend moet ry om betyds by die werk te wees.  Dis darem net ‘n uur vroeër as nou, maar omtrent 150 km.
  • Een van die dae gaan Dianay by haar Ouma deur die dag bly en hopelik minder siek word, en meer aandag kry.
  • Een van die dae gaan my stiefdogter haar eie kamer hê as sy kom kuier en elke tweede naweek met van haar gunsteling ‘maatjies’ kan buite speel en kuier.
  • Een van die dae bly ons nie meer in ‘n kompleks met bure wat kla oor onbenullighede nie.
  • Een van die dae betaal ons nie meer iemand anders se verband nie.
  • Een van die dae maak ons die ekstra woonstel op die erf klaar en verhuur hom uit.
  • Een van die dae kan ons bou en breek en verf net soos ons wil.
  • Een van die dae moet Didi meubels maak dat dit hop om so groot huis te meubileer want ons goed gaan waarskynlik net die sitkamer vol maak.
  • Een van die dae gaan ons hard werk om die plek ‘n bietjie op te knap en die tuin mooi te maak.
  • Een van die dae bly ons hier.

Image0087

En oor ‘n bietjie langer is dit ons s’n.  Ek is so dankbaar.

Image0093

Image0094





Dit gaan so nie gebeur nie…

9 06 2009

GOODWIFE





prAGTig

14 05 2009

Dianay is vandag agt maande oud.  Die tyd vlieg so vinnig verby ek weet nie waar dit heen is nie.  Ek kan rerig nie glo dis al agt maande terug nie.  Sy raak nou so oulik dis asof sy elke dag iets nuuts by leer.  Ek wonder of alle ma’s so bang is.  ‘n Mens weet nie wat die toekoms inhou nie.  Ek’s terselfdertyd bang en opgewonde oor wat vir haar voorlê.  ‘n Mens sien soveel aaklige dinge wat gebeur en ek bid dat sy soveel seer gespaar sal word.

DSC05128

Ek loop nou die dag in ‘n vriendin vas wat ek baie lank terug gesien het.  Ons is seker meer kennisse as regtig vriendinne.  Haar oudste dogter is nou 18 en die jongste een 16.  Ek het hulle leer ken toe die jongste een 13 was.  Sy’s nou swanger.  Sy’s 16.  Haar ma het met iemand getrou net oor geld en gehoop dit sal haar twee dogters iets beter bied.  Hulle is nou 8 maande getroud en van wat ek kan aflei is dit 8 maande van hel.  Haar meisiekind is nou 4 maande swanger.  Hulle is so opgewonde en ek het net half verbaas gestaan en luister na hulle.  Sy’s net 16.  Haar hele lewe lê nog voor haar.  Die pa is 17.  Nie een van hulle het skool klaar gemaak nie.  Hoe gaan sy op 16 na daai kleintjie kyk.  Ek hoop sy sal nogsteeds daaraan werk om ‘n beter toekoms vir haarself te bou sodat haar kind ook ‘n beter toekoms sal hê.  Ek oordeel haar glad nie, ek voel net jammer dat dit nou vir haar moeiliker gaan wees om vir haarself ‘n pad oop te kap in die lewe.  Ek voel regtig so jammer vir haar.  Hulle is sulke mooi meisiekinders.  Ek hoop ek sal vir Dianay genoeg leiding kan gee sodat sy haarself nie oor 16 jaar van nou af in so situasie bevind nie.

Ons het die naweek ‘n braai by die huis gehad saam met een van Didi se vriende.  Hy het nog een van sy vriende saamgebring en die ou het die dag ‘n meisie gaan ontmoet wat hy op Mxit leer ‘ken’ het en haar toe sommer saamgebring.  Vandat hulle daar aangekom het was dit net ‘n tranedal.  Hy’t vir haar gesê sy’s nie wat hy verwag het nie, en sy’s nie goed genoeg nie.  Die arme girl was in trane en vertel net hoe verlief sy was nadat hulle vir twee weke lank op Mxit chat.  Almal was later so gatvol vir die storie en het haar mooi laat verstaan dat sy onverskillig was om saam met hulle te gaan.  Sy’s 20.  Ons vra haar wat sou gebeur het as sy ontvoer was.  Ek weet nie of sy haar les geleer het nie.  Na ‘n groot bohaai het hulle haar by die huis gaan aflaai en het sy gesê sy hoop sy sien hulle nooit weer nie.  Ek sien juis vanoggend weer in die koerant van twee meisies wat blykbaar ontvoer is deur mense wat hulle op Mxit ontmoet het.  Dit maak my regtig bang en ek hoop dat ek goed genoeg na Dianay sal kan kyk om haar teen hierdie dinge te beskerm.  Ek en Didi spot nou die dag want hy sê hy sal nie net een haelgeweer nie, maar twee vir haar moet kry en ek het gesê ek soek ook een.  Ek is gelukkig oortuig daarvan dat ons altwee ons beste probeer .  Daar is min dinge so mooi soos ‘n man met ‘n baba in sy arms.

DSC05282





Laaaang Naweek

7 05 2009

Dis al amper weer naweek en ek het nog nie eers geblog nie.  Ek en my skoonsus het Vrydag die mans laat babysit en ons het gaan yskaats, ek’t weer ‘n neusring gekry, en toe het ons gaan cocktails drink by Burgandy’s in die Kolonade.  Dis die eerste keer na die ‘babies’ wat ons bietjie uitkom.  Ek was laas in 1997 op die yskaatsbaan.  Ek het gelukkig nie een keer geval nie en het my verkyk aan die mense.  Ek kan nie glo hoe klein van daardie kinders is wat skaats nie. 

 

Dianay is darem beter.  Ek is so bly want nou is sy weer haarself.  ‘n Mens voel so hulpeloos as hulle siek is en daar’s niks wat jy daaraan kan doen nie. 

 

dsc05250

 

Hierdie naweek gaan ons bietjie die winkels invaar Saterdagoggend en die middag bietjie braai.  Moedersdag gaan ons my ma bietjie Botaniese Tuine toe vat.  Ek was nog nooit daar nie, maar Dianay hou so baie daarvan om buite te wees dat ek dink sy sal dit meer geniet as iemand anders.





Donnerdag

30 04 2009

Dis nie volmaan nie. Dis nie daai tyd van die maand nie.  Om een of ander rede is ek en Didi altwee baie liggeraak.  Dianay is siek, ons het min geslaap, die kort week wat dit is voel soos drie weke sonder naweek.  Die lang naweek lê soos ‘n berg voor my.  Die huis kort ‘n goeie ’spring clean’.  Ek kom by niks uit nie.  Dis sesuur in die oggend uit die huis uit en half sewe in die aand terug by die huis.  Sy dogter kom vir die tweede naweek in ‘n ry na ons toe (en dis nie dat ek nie van haar hou nie, ek’s net ‘n bietjie hormonal /emotional /geïriteerd /oormoeg /gatvol). 

Dis aaklig as jou kind siek is.  Sy’t gisteraand nie eers ge’smile’ nie.  Net gesit en gehuil of gelê en gehuil.  Darem kon sy tussendeur vir klein rukkies slaap.  Haar melk wil nie inbly nie.  Dis vreemd as sy nie haarself is nie, niks om my voel reg as sy so is nie.  Ons was laas naweek in Johannesburg by my skoonsussie en hulle kleintjie het Gastro.  Ek het so gehoop Dianay sou nie siek word nie.  Sy moet maar vanmiddag bietjie dokter toe gaan.  Dit gaan darem beter met my Ma.  Die knop is sover hulle nou kan sien nie kwaadaardig nie.  Die dokter het haar op nog ‘n kursus antibiotika gesit, so ons sal verder weet na die medisyne.  Hulle gaan dalk die knop (wat oor is daarvan na die vog wat hulle uitgetrek het) moet uitsny. 

Ek weet ek haat dit as mense veralgemeen as dit by vroue kom, maar ek dink ek wil dieselfde doen met mans.  Mans is darem maar ‘n snaakse spesie.  Vanoggend na ‘n uitval wat seker maar deur die stres, die kar wat heeltyd breek, my ma se storie, siek baba en min slaap veroorsaak is en waar ons altwee goed gesê het wat kon gebly het vra hy my “Nou hoekom huil jy nou?”  Dis nie ‘rocket-science’ nie.  My donner.





Update

28 04 2009

Net gou ‘n vinnige update.  My Ma het Vrydag vog uit die knop in haar bors laat trek.  Hulle sal haar hierdie week met die resultate bel so ons almal hou duimvas.





Nou moet ek myself uitskel

23 04 2009

Ek het nie gaan stem nie.  Ek het registreer om te stem.  Ek was van plan om te gaan.  Gister middag toe ons klaar reggemaak het om te gaan besluit die kar dat hy nie wil hê ek moet gaan stem nie.  Boonop stamp manlief toe sy kop terwyl hy goed probeer regmaak dat dit lyk asof iemand ‘n tennisbal onder sy kopvel ingeplant het.  Hy was so deurmekaar ek het later nie meer geweet wat om met hom te maak nie.  So nou moet ek myself uitskel omdat ek nie gestem het nie.





Good Morning Angels

20 04 2009

My Ma het vir my die volgende brief gestuur en sy wil hê ek moet dit na Jakaranda se Good Morning Angels stuur.  Ek weet nie wat om te doen nie.  Ek het al gedink om ‘n konsert of iets te hou of te reël om geld in te samel vir haar sodat sy dokter toe kan gaan.  Ek weet nie meer watter kant toe nie en ek HAAT dit om mense vir geld te vra:

 

20 April 2009

 

Hallo Dianne

 

Ek is ‘n ouma, Ma van vier kinders, 49 jaar oud en weet nie waarheen nie! 

Ek werk by ‘n firma, maar het nie ‘n mediese fonds of siekverlof nie.  Ek het 8 maande gelede ‘n histerektomie gehad.  My enigste kleindogter is net daarna gebore en is vandag die mooiste klein dingetjie op Aarde. 

 

‘n Maand gelede het ek ‘n knop in my bors ontdek, dokter toe gegaan en twee reeks antibiotika werk nie.  My enigste uitweg is ‘n mammogram.  Dit is nie die eerste knop nie, ek het so paar jaar gelede ook een laat verwyder.  My Ma het borskanker gehad en ek het die Kankervereniging geskakel.  Hulle het my geadviseer om so gou as moontlik daarna te laat kyk.

 

Ek was by die Steve Biko hospitaal (Ou HF Verwoerd/Pretoria Akademies), maar ek kan eers gedurende Mei ‘n afspraak kry.  Ek is so bang en het ongelooflik seer.  Pynpill help nie regtig nie.  EK het orals heen gebel.  ‘n Mammogram kos R770.10 en ek het dit nie, as ek ‘n biopsie kry is dit ongeveer R3000-00.  Is daar nie iemand wat my kan help nie?  Ek weet nie hoeveel kos ‘n mastektomie nie.

 

Ek wil net my kleindogter sien groot word, my kinders af en toe sien en as ek ‘n bors moet verloor is dit nie die einde nie.  Ek wil net graag sekerheid hê oor wat volgende op my pad is.  Ek is bevrees dat tyd nie juis aan my kant is nie. 

 

Baie dankie,

Elize du Plessis.

 

Hoe nou gemaak?  Ken iemand dalk ‘n dokter wat sal bereid wees om te help of iets?





Mooiste Lentebaba

20 04 2009

dianay-flowers-grey

Ek kan nie glo sy’s al 7 maande oud nie. 





Sug

16 04 2009

Het iemand groot seblief raad vir ‘n maagsweer?





Didi

9 04 2009

Mag jy as die grys meer word

En ons lywe sagter word

My nogsteeds vra om jou groen trui te deel

 

 

Jan Blohm – Groentrui

———————

 

En die son brand purper my gedagtes

As die son of die reen vir my kom haal

Jy se iewers is daar liefde

iewers waar tyd vir jou kom haal

 

Bly vanaand by my, ek weet jy’t seer gekry

sit jou lyfie in my groentrui

Bly vanaand by my, bly vanaand by my, bly vanaand by my

 

 

Wie’s die girl onder jou oe

wat in Krismis kan glo

happy hours by die kroee

 

Vra my lighty het jy ‘n light?

Vou droom soos ‘n kite

En scheme tonight tonight!

 

Bly vanaand by my, ek weet jy’t seer gekry

sit jou lyfie in my groentrui

Bly vanaand by my, bly vanaand by my, bly vanaand by my

 

 

Maak my siek en maak my blind

ek is jammer ek’t jou ingesluk

is daar iemand wat vir my bid?

                    

Maak my hartjie weer rein

Gee my Rembrandt van Rijn

Maak my blind vir hulle seine

 

                                    

Bly vanaand by my, ek weet jy’t seer gekry

sit jou lyfie in my groentrui

O Bly vanaand by my, bly vanaand by my, bly vanaand by my

 

 

Bly vanaand by my, ek weet jy’t seer gekry

sit jou lyfie in my groentrui

O Bly vanaand by my, bly vanaand by my, bly vanaand by my





Stem reg, bly weg?

2 04 2009

Ek en my pa is al mense in my nabye familie wat gaan stem in die verkiesing.  Net twee.  Die ander het of vergeet om te registreer, of wil net nie gaan stem nie.  Hulle dink nie hul stem gaan ‘n verskil maak nie.  Is ek naïef om te dink dat dit al klaar sal beter gaan as elkeen van ons wat kan stem, dit gaan doen? 

Ek lees ook hierdie raak:

Kies reg. Bly weg!      
Written by Dr SH Gregan   
Monday, 09 February 2009 16:23
Soos in die verlede word die Blanke kiesers opnuut opgeroep om nie in die komende algemene verkiesing te gaan stem nie.  En die redes daarvoor is steeds dieselfde as voorheen:

• Die huidige ANC/SAKP-regime is onwettig. Dit het deur bedrog tot stand gekom deurdat FW de Klerk die Blankes mislei het voor die 1992-referendum.  Hy het nooit die toestemming van die Blankes vir die nuwe grondwet gekry nie.  Die mag is gevolglik aan die huidige regime oorgedra sonder die Blanke kiesers se instemming.
• Die huidige grondwet in onchristelik. Dit druis in teen die Blankes en veral ons Afrikaners se Christelike waardes deurdat dit elke vorm van afskuwelike gedrag goedkeur en die oppergesag van die Drie-enige God misken.
• Deelname aan die verkiesing impliseer erkenning van die bestel. Dit is ‘n erkenning dat die ANC aanspraak het om hierdie land te regeer.  So ‘n erkenning trek ‘n streep deur die geskiedenis en die Blankes se regmatige aanspraak op ons eie vaderland.
• Die grondwet misken die volke-, kulturele-, en taalverskeidenheid van hierdie land.  Dit verteenwoordig waardes wat ligjare verwyderd is van dit waarin ons as Blankes glo.
• Partye wat die Blankes oproep om te stem doen dit suiwer om eiebelang en om ‘n sitplek op die soustrein te verwerf. Hulle weet baie goed dat die huidige bestel só ingerig is dat die Blankes net kan saampraat, dog elke keer uitgestem sal word weens die oormaat van swart getalle. Intussen vertel die regime vir die wêreld dat demokrasie “werk” juis vanweë enkele Blanke gesigte in die parlement.  Die Blankes is ‘n magtelose minderheid in die parlement. Die ANC/SAKP maak met sy meerderheid net wat hy wil.
• Die wegblystem onder Blankes word met elke verkiesing groter soos Blankes besef dat hulle mislei word deur opportunistiese partye wat voorgee om Blanke belange te dien. Feit is: Die meerderheid Blankes aanvaar nie die huidige bestel nie. Skaar u by die meerderheid en bly weg!
• Weiering om aan die verkiesing deel te neem, is ‘n daad van verset.  Deur nie te stem nie, sê ons vir die wêreld ons berus nie in hierdie bedrogvolle en verraderlike toestand waarin ons volk verkeer nie.
Die AVP as die enigste party wat staan op die beginsels van onverdunde Afrikanernasionalisme sê:  Nasionalisme eis dat elke volk homself in sy eie vaderland regeer. Die trompetwoorde in ons stryd moet wees: Vaderland, Volkskap, Vryheid!

Wat besef moet word is dat ons ons vryheid nie binne die ANC se parlement sal verkry nie, maar alleen daarbuite! Deur nie te stem nie, sê ons vir die wêreld ons berus nie in hierdie toestand nie en word volksgenote aangespoor tot verset, eerder as berusting.

Die nasionalis het derhalwe net een keuse:  Bly weg van die ANC se verkiesing en kom in verset buite die bestel.

 

 

Last Updated on Sunday, 15 February 2009 19:28

Lyk my ek is nie ‘n nasionalis nie.





Soms is ek ‘n mier

24 03 2009

“The size of a man is measured by the size of the thing that makes him angry.”

Author Unknown





Dankie

19 03 2009

Ek dink ek’s terug en van plan om meer gereeld te blog vir ‘n verandering.  Ek het hierdie artikel in die Sarie van Maart 2009 gelees.   Dit was lewensveranderend. 

 

Hoe het jy gevoel toe jou 13-jarige groeigestremde seun die eerste keer op die verhoog saam met jou dans?

“Vermaaklikheidsterre Ian von Memerty (ook bekend as aanbieder van Strictly Come Dancing op SABC2) en sy vrou,Vivienne, se dogtertjie Valeska is op 18 maande met die genetiese metaboliese siekte MPS 6 gediagnoseer. Toe Vivienne met Oscar swanger was, het sy uitgevind dat hy dit ook het. Dit kan dwergisme, doofheid, blindheid en verlamming veroorsaak, en lyers word dikwels nie ouer as hul tienerjare nie. Valeska is in Augustus 1998 oorlede. Onlangs het Oscar op 13 saam met sy ouers en sussie, Kasvia (8),’n hip-hop-vertoning in die produksie A Celebration gelewer – sonder dat hy een dansles in sy lewe gehad het! Ian vertel.

ian-von-memerty“Dit was ‘n heuglike, senutergende oomblik. Oscar is ‘n daaglikse ‘wonderwerk’ wat almal inspireer. En dit was lekker om iets wat vir hom spontaan kom te sien. Hy het homself leer dans. As hy op sy nek tol, kan dit breek. Maar ek was nie bekommerd nie – dis nie gevaarlik nie, solank hy nie op sy kop tol nie.

“Ondanks twee beenmurgoorplantings voor sy sesde lewensjaar en die uitdagings van sy lyf, is Oscar een van die sjarmantste, mees emosioneel gebalanseerde mense wat ek ken, en trots op homself. Van sy geboorte af was hy ‘n sonskynkind met ‘n kalm, stralende selfvertroue. Ons het hom nog altyd aangemoedig om onafhanklik, liefdevol en dankbaar te wees.

“Dié vertoning, waaraan ons hele gesin deelneem, is ‘n viering van die lewe waarin ek alle verhoudinge eer – my 28 jaar met die klavier, 25 jaar in die vermaaklikheidsbedryf, 20 jaar met my vrou, 16 jaar van ouerskap, en die belangrikste, ‘n gelukkige gesinslewe. Kasvia sing en dans, Vivienne dans ook elegant, Oscar se hip-hop is ongelooflik, en ek sing, dans, speel die klavier, vertel die storie en vertel grappe. En swéét!

“Maar hoewel dit maklik klink, beteken dit nie als is altyd eenvoudig nie. Ons streef deurentyd na ‘n balans tussen die paradokse in die lewe. Die eerste sin in M. Scott Peck se The Road Less Travelled ‘Life is difficult’ – som dit eintlik goed op. Die oomblik as jy dít verstaan, is dit eintlik eenvoudig. Want dan verstáán jy die lewe ís moeilik. Oscar en Valeska se siekte het ons geleer die dood is onafwendbaar.Wat eintlik saak maak, is hoe jy lewe vóór die dood, gegewe jou omstandighede.

“Hoe bly ons gesin so gelukkig en positief? Dis grootliks ‘n keuse. Harvard het ‘n studie gedoen oor wie die gelukkigste mense op aarde is. Ryk, arm, manlik, vroulik – die gemene deler was meestal dankbaarheid. Ek glo nie aan ‘n spesifieke godsdiens nie, maar ek glo sterk aan beginsels soos respek, aanvaarding, energie, dissipline, liefde en dankbaarheid.”

– Marguerite van Wyk

 

So paar dae nadat ek hierdie artikel gelees het was Dianay die dag saam met my by die werk.  Een van my kolega’s het laat die middag vir haar kom hallo sê.  ‘n Mens weet nie altyd wat in ander se lewens aangaan nie.  Dit is eers toe ons begin praat oor kinders dat ek kans kry om in sy lewe in te loer.  Sy seun is 4 jaar terug dood aan ‘n hartaanval as gevolg van ‘n asma aanval wat hy gehad het.  Hy was 18 jaar oud.  Vir 18 jaar lank het hulle vir Ryan die beste gegee wat hulle kon, hy was hulle alles, en toe is hy net eweskielik weg.  Hy wou ‘n ‘pilot’ word en sou die volgende dag die eerste keer vlieg.  Alles wat hulle gedoen en voor gewerk het is in ‘n oogwink weggevat.  Ek het skaam gekry omdat ek soms kla oor dinge wat gebeur, oor ek moeg is, oor ek gestres is, oor ek ek ek.  Die deel van die artikel waar Ian sê dat ‘n mens moet aanvaar dat die lewe moeilik is het vir my baie beteken.  Ek wonder soms of dit nie my eie skuld is as ek deur ‘n ‘dip’ gaan nie.  Ek is die een wat seker verwagtings het, en as dinge nie so uitwerk nie dan ongelukkig raak. 

 

Ek lees oor Nelba en Carien se verlies en ek dink nie ek sal sterk genoeg wees om dit te kan verwerk nie.  Ek kry skaam omdat ek kla as ek 20 keer ‘n nag moet opstaan.  Ek sal nie weer nie.  Dianay se gesiggie in die oggend as ek wakker word is alles werd, ek sal niks slaap nie as dit moet.  So my laat nuwejaarsvoornemens sal wees om meer dankbaar te wees en om minder te kla.  Ek is so dankbaar vir almal wat gehelp het toe ek dit nodig gehad het, selfs dankbaar vir die familie se ‘ongewenste’ raad want ek weet hulle het dit net goed bedoel.  Nelba het die beste ‘raad’ gehad nou die dag – Jou kinders het niemand om jou mee te vergelyk nie, vir hulle is jy alles.  Dis iets om na uit te sien.





Dis weer ‘n slag tyd…

20 02 2009

Ek is nie amptelik terug nie.  Ek lees so hier en daar blogs en ek moes net weereens vir Maeree sê dat ek dink sy is skreeusnaaks.  Rerig.  Ek love haar posts.  Veral hierdie een.  En hierdie een.  En ook die een.  Ek vermoed ek hou van haar blog omdat sy nie voorgee nie, omdat sy bereid is om oor goed te skryf wat die meeste konserwatiewe (meestal Afrikaanse) bloggers nie sal sê nie.  Ek dink met my terugkeer kan ek ook maar ophou om te skryf met ander mense en wat hulle gaan sê in my agterkop.  Ek haat dit.  Dis nie meer lekker om te blog nie.  Juis hieroor.  Sodra ‘n mens nie saam met die stroom gaan nie, moet jy maar teen die klippe opswem wat na jou kant toe gegooi word.  Dankie vir MaereeBertus en Johan.  Julle laat my dink, juis omdat julle nie soos ander dink nie.  Ek wonder soms of dit nie dalk is omdat julle nie rerig deel was van die Spoegblokding nie.  Julle skryf heeltemal anders.  Ek’s dankbaar.  Ek love dit.  Inderdaad.





The Show Must Go On

20 01 2009

Hierdie jaar is so vinnig op my ek kry nie kans om te dink nie.  2008 was so ‘n warrelwind jaar.  Ek het nie ‘n jaar terug gedink ek sou vandag weer getroud wees, ‘n ma of ‘n stiefma wees nie.  Dinge verander so vinnig.  Ek het besluit om so kort/lank/ek weet nie hoe lank eintlik nie “blog sabbatical” te vat.  Hierdie laaste paar maande het ek die blog afgeskeep terwyl ek besig was om te probeer ‘cope’ met al die veranderinge van die laaste ruk.  Daar was so baie kere wat ek hier wou kom raad soek, hier wou kom huil en hier wou kom lag oor dit wat my pla. 

 

Ek kan vandag nie my lewe indink sonder Dianay nie.  In die jaar wat kom gaan sy so baie dinge leer doen.  Sy gaan tandjies kry, leer sit en kruip.  Sy gaan meer lag en verder die reuse persoonlikheid vir so klein lyfie ontwikkel.  Ek het baie geleer in die laaste paar maande.  Toe ek swanger was het ek nooit gedink ek sou ‘baby blues’ hê of aan Nageboorte Depressie ly nie, juis omdat ek na die miskraam so graag ‘n baba wou hê.  Min het ek geweet hoe naby aan ‘crack’ ek sou kom.  Ek dink die sameloop van hoe dinge gebeur het kon dalk bygedra het tot hoe ek later gevoel het.  Die eerste maand was so deurmekaar en dinge het so vinnig gebeur, ek het gevoel of ek in ‘n dwaal is en net nie kan bykom nie.  Ek het nie eintlik tyd gehad om behoorlik te dink, eet of slaap nie.  Toe sy eers by die huis was kon ek begin vrede maak daarmee dat sy uiteindelik hier is.  Met die sonars toe ek swanger was het die dokter mos gesê dis 90% ‘n seun.  Ek het my voorberei op ‘n seuntjie, op Stoffel.  Toe sy gebore is was dit ‘n geweldige skuif wat ek in my kop moes maak om aan te pas.  Om op ‘n manier ‘totsiens’ te sê vir die seuntjie en die drome wat ek gedroom het vir hom.  Dit klink seker vreemd maar ek het die eerste ruk gesukkel om daardie skuif te maak.  Dit voel soms nie of ek my swangerskap met haar kan vereenselwig nie, so asof ek swanger was, en toe nie meer nie, en toe eweskielik ‘n klein dogtertjie gekry het. Toe ek uiteindelik vrede daarmee maak en sy by die huis is het dinge nogsteeds nie ophou verander nie.  Ek het net erger begin voel.  Ek het voorheen gehoor dat vrouens wat as dogtertjies gemolesteer is sukkel as hulle hul eie kinders het, veral as dit dogtertjies is.  Ek dink ek sou myself bietjie beter kon voorberei daarop as ek geweet het dat sy ‘n dogtertjie was.  Dit voel asof ek nou eers na meer as vier maande weer bietjie mens begin voel, asof ek nou eers weer kan asem skep.  In haar eerste 2 maande by die huis het ek erg gesukkel, en ek wens nou ek het met meer mense gepraat en probeer omdit uit te sort.  Die enigste probleem is net dat mense so vol raad en verwyte is as jy ‘n nuwe Ma is dat hulle te besig is om ‘raak te sien’ hoe jy jou kind verkeerd vashou of iets anders wat nie eintlik ‘n reg of verkeerd het nie te kritiseer. 

 

Ek kon haar nie bad of haar doeke ruil sonder dat my hart voel of dit uit my bors wil ruk en ek wil kots nie.  Die gedagte as ek haar kaal sien dat iemand met haar sal lol put my uit.  Ek het so leeg getap en verby-dood-moeg gevoel.  Ek ‘cope’ eintlik nou vir ‘n slag ‘n bietjie beter.  Ons lag en speel en sing ‘lullabies’ met Karen Zoid, Eva Cassidy en Tracy Chapman as agtergrondsangers.  Sy raak so chubby en so cute. 

 

My Ma weet wat met my gebeur het en dis vandag eers wat ek nie genoeg vir haar kan sê dat sy moet ophou om haarself daarvoor te verwyt nie.  Dit sal seker nie help nie, maar ek wil hê sy moet weet dat ek vandag weet dat daar niks was wat sy kon doen om dit te keer nie.  Ek kan nie my kind 24 uur ‘n dag oppas nie, al wil ek.  Ek kan my beste probeer om situasies te vermy waar iemand haar kan molesteer, waar iemand haar kan seer maak.  Ek sal haar vertel wat kan gebeur en haar bewus maak van die siek mense wat saam met ons op hierdie planeet rondloop.  Dit was ‘n familielid wat my gemolesteer het en om haar weg te hou van familie af, van vreemdelinge af en selfs van haar pa af gaan maak dat sy soveel uitmis, en dit gaan maak dat ek my uitbrand.  Dis onregverdig teenoor Didi om hom nie te vertrou nie, hy het klaar een dogter en as ek net sien hoe erg hy oor haar is, is my vrese en wantroue onredelik.  Hy’t ge’cope’ toe ek nie kon nie, hy was daar.   Ek het twee mense vertrou met my gevoelens en hulle raad was om met iemand te gaan praat sodat ek kan vrede maak met dit wat gebeur het.  Ek het gedink ek het daarmee vrede gemaak, ek het gedink ek het aanbeweeg, maar ek dink nou ek het myself meer ge’fool’ as vir enige iemand anders.  Ek wou nooit ‘n dogtertjie hê nie want ek was te bang vir die sluise wat in my kop sou oopgaan.  So ek gaan my ‘blog sabbatical’ gebruik om my kop ‘n bietjie skoon te kry en aan te beweeg.  So baie van die dinge wat ek gedink het voordat ek vir Dianay gehad het maak nou nie meer sin nie.  Ek voel so sleg oor die oordeel wat ek oor ander ouers uitgespreek het voordat ek geweet het hoe bang mens voel as jy besef dat jy verantwoordelik vir iemand anders se lewe is.  Ek dink elke ouer probeer maar die beste doen met dit wat hy het.  Ek vra sommer nou omverskoning vir die ouers (insluitend my eie) wat ek gekritiseer het, vir my groot bek toe ek nie geweet het nie.  Ma-wees kom nie met ‘n ‘manual’ nie.  Jy kan lees tot jy blou is in jou gesig en alles in jou slaap kan herroep maar dit help jou net mooi niks as jy met daai kleintjie in jou arms sit nie.  Jy maak maar soos wat jy goed dink.  Behalwe vir die Dianay-dogtertjie-molesteer gedagtes wat my mal gemaak het was die ander mense se gekarring die grootste rede vir my amper-crack-episode.  Ek kon nie meer nie en dis hoekom ek jammer sê vir die grootbek ‘ignorance’ wat ek voorheen in my kop rondgesleep het.  Ek weet nie hoe om ‘n Ma te wees nie, ons figure dit maar uit soos wat ons aangaan.  My Ma vertel vinnig dat sy ‘n k*k Ma is, en by ander mense se standaarde is sy seker.  Sy’s defnitief nie die koekies bak en huiswerk tipe ma nie, ek dink ook nie ek gaan wees nie, maar ons kon nog altyd met haar oor alles praat en sy’t nog altyd geluister.  Ten spyte van die foute wat sy gemaak het gaan sy nie met oogklappe deur die lewe nie.  Sy is juis die een persoon wat my die beste raad gegee het na Dianay, en dit was om na my ‘gut’ te luister, en sover was dit nog elke keer die regte ding om te doen.  So ek luister maar nou so bietjie na my ‘gut’ en vat ‘n ruskansie.  Ek sal nog blogs lees en inloer so nou en dan, maar ek dink ek moet bietjie konsentreer op ander dinge sodat ek kan terugkom en beter hier kan konsentreer.  Dis so soortvan ‘n nuwejaarvoorneme so ons kyk maar of dit een is wat hou.  Nou moet ek nog net ophou rook.





Happy New Year

31 12 2008

My Oupa verjaar vandag so ons almal gaan deur Secunda toe na my Tannie toe om sy 70ste verjaardag te vier.  Die hele familie was lanklaas almal so saam so ek dink dit behoort interessant te wees. 

 

20092

Baie voorspoedige Nuwe Jaar vir almal, mag 2009 net mooi wees.





Dianay – 3 maande

19 12 2008

Ek kan nie glo sy’s al 3 maande oud nie.  Haar hare is oranje in die son.  Ek hoop dit bly so.  Ek wou nog altyd ‘n rooikop meisiekind gehad het.  Sy glimlag al hoe meer en sy tel nou vinnig gewig op. 

img_4760img_4703img_4693dianaystanding3monthsimg_4739