Sonde(r) Twyfel

24 07 2007

My Ma het haarself oortuig daarvan dat sy kanker het.  Sy glo dit is haar straf vir al die sondes wat sy gedoen het, vir al die mans wat sy in haar lewe gehad het.  Haar straf vir elke keer wat sy vlees bo gees gestel het.  Ek kan my so vererg vir haar.  Sy’s my beste vriendin, en soms het ek net lus om haar wakker te skud, en ek is seker sy voel presies dieselfde oor my. 

Word ‘n mens so gestraf?  Ek weet baie mense glo dat jy nog vir jou voorvaders se sondes ook betaal.  Ek het genoeg van my eie om nog vir ander s’n ook te betaal.  En wie besluit wat sonde is.  Iets wat ek dink verkeerd is is vir iemand anders tweede natuur.  Is sonde wanneer jy iemand anders leed aandoen? 

Ek sukkel om hierdie dinge vir myself uit te maak.  Ek beskou myself seker maar as ‘n Christen, en jy word so ge’programmeer’ om nie ander gelowe te oorweeg nie, dat alles ander sonde is.  Glo ek wat ek glo net omdat ek so grootgemaak is, of glo ek dit omdat dit werklik is wat ek glo?  So baie van die dinge in die Bybel maak nie vir my sin nie.  Ek dink nie ek wil dit uitfigure nie.  Ek maak self my ‘mind’ op oor wat vir MY reg en verkeerd is.  Is dit verkeerd?  Ek weet van mense wat grootword in huise waar rassisme en die ‘uitverkorenes’ in hulle inge’prent’ word.  Hulle glo vir die res van hul lewens wat hulle geleer is.  Hoekom doen sulke mense nie moeite om vir hulself te besluit nie? 

Hierdie is net ‘n paar van dinge wat blykbaar verkeerd is en ‘evil’ is, of so is ek geleer:

  • Astrologie
  • Reiki, reflexology en enige ander alternatiewe genesing
  • TV programme en flieks soos Harry Potter, Constantine, Charmed, Crossing over with John Edward, Liewe Heksie, Pokemon, Dragonball Z, Casper de Vries, Nightmare on Elm Street, en ek kan nog lank aangaan met die een.
  • Enige ander geloof behalwe Christenskap.  Die Roomse Katolieke Kerk is ook glo evil en so ook die Jehova’s Getuies.  Die Moslems is glo die ergste van almal. 
  • Seks buite die huwelik
  • Aborsie
  • Die ‘morning after’ pil
  • Rook
  • Drink
  • Feng Shui
  • Karate en amper enige iets Oosters.
  • Dans – soos in vas dans met iemand waarmee jy nie getroud is nie.
  • Kroeë en clubs.

Ek sal heeldag kan skryf oor wat ek geleer het reg en verkeerd is.  Die probleem kom nou net in by die feit dat ek nie saamstem met dit wat ek geleer is nie.  Hoe breek ‘n mens weg van alles wat gekondisioneer is om in te glo en maak jou eie reels?  Ek dink ek sal dit seker maar stelselmatig uitvind.  Ek wil net nooit weer in my lewe so gebrainwash wees dat ek alle ‘logika’ verloor nie. 

Ek glo defnitief in die bestaan van God, ek glo net nie dat hy so ‘narrow-minded’ en kleinlik is soos wat mense hom uitmaak om te wees nie.  Ek dink nie mens kan Hom in ‘n boksie sit en ‘label’ nie. 


Aksies

Information

17 responses

24 07 2007
Da Mario

Let’s not even go there….

24 07 2007
BB

DM – I ain’t going there with you… ;)

24 07 2007
marat

Nee, ek dink ook dis veiliger om nie “soontoe” (there) te gaan nie . . . :-D

Ek dink reg en verkeerd het baie met jou eie waarde-sisteem te doen.

24 07 2007
Melanie du Toit

Ek is baie bly ek kan by iemand aanklank vind… My ma is presies dieselfde! En alles is sonde, ek mag nie yoga nie, ek mag nie teenage mutant ninja turtles kyk nie, karate is buite die kwessie, feëtjies en kabouters kom van ver onder ens. ens. ek dink iets is net sonde as die bybel sê dit is. Leef maar net volgens die Here vir ons voorgeskryf het. As ons so tussen die lyne dinge wil lees uit die Bybel dan is ons die narrow mindeds. ‘n Fisiese ding is net verkeerd of sonde of vol duiwels as ons dink dit is of as ons dit by een of ander satanaanbidder as persent gekry het.
Dankie oopkop. Ek like jou!

24 07 2007
kaalvoetkind

Ek dink die tien gebooie is ‘n goeie riglyn. Verder het my ma my geleer, dat as ek twyfel oor iets, ek dit liewer moet los (hoekom twyfel ek dan??). Ook as jy op ‘n plek is, dink daaroor of jy daar sou wou wees as die Here op daardie oomblik sou kom. Dis maar wat my ouers my geleer het, en dis wat ek my kinders leer. Ons hou eenkeer ‘n week sel en gesels baie oor dié tipe vrae waarmee mens worstel. Maar ek stem saam met Marat dat elke mens maar sy eie waarde-sisteem het. Elke mens het ook sy eie unieke verhouding met God.

24 07 2007
troglodiet

10gebooie is die ou testament. Jesus was nog nie gekruisig nie. Maar toe word hy gebore en 32 jaar later gestraf. Die belofte wat af gelê is – WEES LIEF VIR JOU NAASTE SOOS JOUSELF EN GOD BO ALLES.

Ek sien dit bietjie anders. Jesus het gebore geraak in my. Maar vir Hom om op te staan in my moes ek eers die ou mens (voordat ek God in my laat lewe het) gekruisig (af gesterf) het. As jy God lief het sal jy weet wat reg en verkeerd is. Jou gewete sal jou aankla as jy die verkeerde doen. Sê die Bybel tog nie beproef alles en behou die goeie nie? Hoe sal jy weet wats reg en verkeerd as jy nie n beproef nie?

24 07 2007
sonkind

O liewe hemel, Oopkop, dan is ek sonde en “evil” personified! Daar is nie redding vir my nie.

Behalwe aborsie en die ‘morning after’ pil, staan ek skuldig aan alles op jou lysie. Het selfs nou die nag een-uur my Harry Potter boek gaan haal, al het party mense gedink ek is totally wacko.

Dankie Ma en Pa, dat julle my daai tyd al oopkop grootgemaak het. En ek weet my saak met God is reg, ongeag wat wie dink of sê. Ek dink nogal God het ‘n sin vir humor, maar dit sal ‘n skrywe op ‘n ander tyd moet word.

25 07 2007
idiwidi

As jy hard genoeg glo dat jy gaan kanker kry, dan sal jy. En dan is dit net jy wat jouself gestraf het.

Shame, God kry ook altyd die skuld vir mense se simpelgeit. En Sy’s eintlik so cool!

25 07 2007
rb

Daar was so ruk terug ‘n program op RSG oor die onderwerp of ons nou nog boet vir voorvaders se sondes. Die oorheersende antwoord was JA. Jy moet die band breek, jy moet blykbaar gesalf word of iemand gaan sien om die band te breek.
Ek kan nie lekker onthou nie, want ek glo dit nie.
Ek glo God se dat as ons vra om vergewe te word Hy ons sondes wegvat en ons vergewe! So as my ouma nou iets gesondig het en sy het nie vergifnis gevra en gekry nie, dan word ek nou gestraf daarvoor??? Ek glo dit nie.

25 07 2007
My Kop Op 'n Blok!

Sjoe, is dit nou nodig dat jy sulke moeilike issues moet aanraak? Die wetenskaplikes kyk terug in die verlede en sien net ‘n oerknal, hulle kyk vorentoe en sien net ‘n ‘big crunch’ (wat’s dit in Afrikaans). Wat is buite-om die heelal? Waar was God toe Hy die heelal geskep het, het hy nog ander heelalle ook geskep. Dis vrae waaroor ek en miljoene ander al vir hoe lank wroeg. As ek na die ingewikkeldheid van die fisika kyk, glo ek dis beplan. Ek dink party mense kom tot dieselfde slotsom en is nog steeds verward en dink is die God wat ek geleer het om te aanbid nou Die God? Ek sien geen rede om dit te doen nie, is dit nie dan maar makliker om die status quo te handhaaf nie? Of is ek kortsigtig? Ek weet van mense wat trippies maak Londen toe om vir die Arabiere Bybels op die straathoeke uit te deel – ek stem nie saam nie, eerstens omdat daar genoeg Moslems hier is. Tweedens, wat gaan jy met ‘n Koran maak as iemand dit op ‘n straathoek in jou hand stop?

Om te besluit oor sonde, moet jy nou maar eers besluit, wat is jou geloof. As jy ‘n Christen is, kyk na die twee groot gebooie soos Jesus dit in die Nuwe Testament uitlê en besluit dan vir jouself of die ding wat jy op jou lysie het teen die gees daarvan ingaan. Ook nie maklik nie.

25 07 2007
Bertus!

Is daar nog mense wat dink dans is sonde? Ek het nie geweet daar is nog sulkes nie.

25 07 2007
Koeksuster

Ons het n ou Dominee gehad wat vol wysheid was.

Die kinder preek een sondag was oor juis die ding en sy antwoord was op die man af. Daarvolgens rig ek nog steeds my lewe – jarrre later…

Enige-iets wat staan tussen jou en jou God is sonde. Enige plek waar jy hom nie kan saamneem nie, en enige-iets wat jy nie saam met Hom kan kyk nie – dis sonde.

Baie eenvoudig – maar uiters effektief.
R

25 07 2007
oopkop

Daar is nog sulkes Bertus. Dit het blykbaar iets te doen met die lus vir vlees as twee mense dans, dis hoekom jy nie met iemand moet dans wat jy nie mee getroud is nie, want dit kan lei tot owerspel.

Of so iets…

25 07 2007
boerinballingskap

Sonder om snaaks te wees: Ek is baie lief vir my Ma, maar nou besef ek hoe bevoorreg ek eintlik is om haar as Moeder te he! Al is sy al baie oud, verstaan sy al die grys dele (tussen die swart en wit).

26 07 2007
hexi

Ja, ek het in die koshuis groot geword, en da het ons gesokkie in die gange en skelm gerook! Ek het regtig nie my maiki se vlees begeer nie!!!! LOL! Maar ek kan dit verstaan dat dit kan lei tot owerspel…of so iets…

26 07 2007
bitterbek

Ek het ‘n broertjie dood aan godsdiens. Dit word al sedert die middeleeue gebruik om die heilige vrees in al wat ‘n mens is in te jaag. Hoekom? Sodat jy beheer kan word. En ek wil my verstout om te sê, dat sodra daar ‘n kerklike struktuur is, is daar kerklike politiek en die hele beleid word gevorm om die lidmate daarby te laat inpas. Jammer. Dit werk nie vir my nie. Soos jy ook sê, ek kan nie glo dat mense die Skepper van die Heelal in so ‘n boksie kan plaas nie. Dìt is sonde!. Na al my kerklike omswerwinge, het ek berusting gevind in die feit dat my verhouding met God enig en baie persoonlik is. Ek kan wel daaroor getuig, maar ek kan dit nie op iemand anders afdwing en skielik as ‘n ideologie vir die ewige lewe of dood verkondig nie. Ons leef in die inligtingsera – kennis word al hoe meer en dit veroorsaak ‘n ernstige dilemma vir die kerk (kyk maar na die tameletjies waarin die ng-kerk homself bevind). Mense soek antwoorde en kerke gaan bitter vinnig hul strategieë en ideologieë moet hersien – wegbeweeg van om geloof af te dwing deur skuldgevoelens by mense te veroorsaak, maar eerder om geloof te versterk deur te konsentreer op God se Grootheid en die potensiaal wat Hy in elkeen van ons ingebou het as deel van Sy groot plan.

30 07 2007
Hans Matthysen

Deur met iemand te gesels, kan lei tot dieselfde sonde, as om met iemand te dans, dus is dans nie sonde nie. Alles wat ek bo God stel is sonde. Wat ek aan die minste van Hom doen, doen ek aan God, dus betoon naasteliefde aan almal, veral aan die huisgenote van God.
As ek sou rook en later in my lewe sukkel ek met my longe, dan het ek die vloek oor myself gebring. Dit is nie God wat my laat boet vir ‘n “sogenaamde” sonde nie. Daar staan ook in die Bybel, dat dit is nie wat ingaan wat jou onrein maak nie, maar wel wat uitkom (wat ek openbaar of leef).
Jy kan nie ‘n persoonlike verhouding met God hê, as jy nie naasteliefde betoon nie, want hy wat sê hy het God lief en hy haat sy broer, is ‘n leunaar.
Jesus sê vir Petrus, wat beteken rots, op jou sal ek my gemeente (church) bou, dus kan ek nie dink, dat daar nie ‘n kerk kan wees nie.
Geen een is sonder sonde en daarom is daar vergifnis, deur genade.

Lewer kommentaar