Ek het gisteraand gewonder hoe ek die ongelooflikste naweek ooit hier gaan weergee. Ek het nie genoeg woorde nie, of ten minste nie mooi genoeg woorde nie. Elke sekonde was magic. Ek was eintlik nie in ‘n goeie bui nie, ek’s al van laasweek af stillerig. Ek wil nie praat nie. Dit is min wat ‘n mens iemand kry wat jou los om stil te wees, wat nie ‘conversation’ probeer maak om die stilte te laat verdwyn nie. (Jy’s een van die ongelooflikste mense wat ek ken. Dankie dat jy my van haar vertel het, dat sy dood is en dat ‘n stukkie van jou hart saam met haar dood is en dankie dat ek net ‘ek’ kan wees by jou. Dankie vir die naweek en ek’s bly jy het veilig gery. My siel se kompas wys in jou rigting, ek sal jou eendag vertel.)
Vrydagaand is ons na so “Country-aand” toe. Saterdag oggend gou by my ma ‘n draai gaan maak, Saterdag middag gaan shop en toe by Mike en Martie gaan kuier. Morné het sy sleutels in die kar toegesluit en na ‘n uur se gesukkel dit darem weer kon uitkry. Saterdagaand na ‘n 60ste verjaardagpartytjie toe. Hulle het soveel moeite gedoen. Dis ‘n klomp mense wat almal Harley’s ry, so dit was nie ‘n koek-en-tee 60ste nie. My knieë het gister eintlik gepyn van al die gedans. Gisteroggend opgestaan, my handsak oopgemaak om ‘n sigaret uit te haal en toe gesien my kouse is in my handsak, wat beteken dat ek my skoene uitgetrek het die vorige aand met die gedansery en dit moontlik misgedrink het. Dit was toe darem in die kar. Morné moes gister weer op toer gaan so dit was so bietjie hartseer. Gisteraand het oom Fred vir my en my ma gedigte voorgelees, dit was so verskriklik mooi, Elizabeth Eybers, Breyten Breytenbach, die mooiste woorde op papier. Ek wens ek kon so skryf. Dis ongelooflik hoe letters op papier ‘n mens so kan raak, hoe mooi dit klink as dit uit iemand se mond kom.
Onlangse Kommentaar