Perde koop

10 11 2007

Ek haat dit om hierdie blog so af te skeep.  Ek is te besig by die werk om te probeer uitfigure wat daar aangaan om eers meer almal se blogs te lees.  Ek bly myself belowe dat die volgende week sal beter gaan, maar as ek myself kry is daar alweer ‘n week verby en het ek net een keer geskryf.  Behalwe vir die gesukkel by die werk gaan dinge darem baie beter as in ‘n lang tyd.  Die hofsaak sou die 8ste November gewees het maar die prokureur het laat weet dat die staatsaanklaer besluit het om nie te vervolg nie.  Dit was ‘n groot verligting. 

Dit pla my dat ek die laaste amper ‘n jaar geen ambisie het nie, asof alle drome wat ek vir myself gehad het net verdwyn het.  Dit is stadig besig om weer terug te kom en ek is besig om my kop uit te sorteer.  Wel, dit voel ten minste so. 

Hoe gou is te gou om te trou nadat jy iemand ontmoet het?  Ek het nie gedink ek sal ooit in my lewe weer trou nie, maar nou…  Dinge verander so maklik, in ‘n oogwink.  Ek het nog nooit so vinnig vir iemand geval nie.  Nog nooit so vinnig lief geraak vir iemand nie.  Alles voel net reg, vir die eerste keer in my lewe.  Vir die eerste keer is ek in ‘n verhouding met iemand wat my op sy hande dra en alles voel net asof dit in plek val.   Ek is verbaas dat ek soveel vertroue in hom het, dat dinge net natuurlik voel, asof dit nog altyd so moes gewees het.  Sy dogter is regtig ‘amazing’.  Ek het vergeet hoe dit voel om net bietjie sorgvry te wees en te speel.  Ek en sy het Vrydagmiddag in die sproeier rondgehardloop, ‘n entjie gaan stap, lekker gesels.  Sy is regtig ongelooflik.  Roxanne, you’re so special.