Die nuwe liefde het Sondag my Pa gebel om hom te vra of hy maar met my mag trou. Ek het my Pa lanklaas gesien en dit was lyk my die enigste uitweg omdat ons hom nie gou gaan sien nie. Van wat ek kon aflei het die gesprek so iets geklink:
Liefde: Middag Oom, my naam is Diederik. Mag ek asseblief met jou dogter trou?
Pa: Is jy lief vir haar?
Liefde: Verskriklik baie Oom.
Pa: Is jy mal?
So iets. My pa het ja gesê. Is jy mal nogals. Ons spot net die week dat niemand in my familie normaal is nie. Toe kom so paar ‘childhood memories’ oor my familie terug. So baie memories waarin die mense in die familie net nie normaal optree nie. Weereens wonder ek hoe hulle dan verwag dat ek gaan normaal wees?
Ek het in Standerd 6 by my Oupa-hulle op Riviersonderend gaan bly. Dis ‘n klein dorpie, baie klein dorpie. Hy het met my Oupa-grootjie se stokou lemmetjien groen Toyota rondgery en my in die oggend met skool toe gevat in die kar. Die skool was net so bietjie meer as ‘n kilometer van die huis. Ek moes eerder geloop het. So ver soos wat ons in die pad opkruip met daai vieslike groen gedrog maak my Oupa asof hy ‘n perdekar ry. Hy maak asof hy die leisels vashou en sy skouers beweeg op en af soos wat hy die perdekar “manoewir”. By die skool aangekom kry ek so lank my “soetkys” en maak reg om uit te klim. Dis nogsteeds grondpad en nes ek uitklim spin hy weg sodat ek in die stofwolk agterbly. Die kinders lag, hy lag, almal lag, behalwe EK! Scarred for life. My Oupa is eintlik nogals snaaks. Hy sê altyd “let goneby’s be goneby’s.” Toe ek daar gebly het, het die sensusmense op ‘n stadium ‘n draai gemaak. My Oupa het laat ek die vorms invul en gesê ek moet sê hy het Standerd 6 met Somme. Ek het dit toe maar so in die sensusvorms aangeteken, al giggelend.
My Ouma en Oupa kan lekker baklei as hulle die dag lus het. Ek dink almal in die familie is dit nou al gewoond en aanvaar hulle maar so. My Ouma kan ook die snaakste goed aanvang. Sy het al twee keer ‘n “draadloos” stukkend gegooi omdat Thys die Bosveldklong se liedjie “In die Middel” gespeel het. Sy maak laslappiekomberse. Sy sukkel om Engels te praat, en sy bry. Wel… eintlik sukkel sy net om die ‘dj’-klank in woorde soos just, juice, jet ens. uit te spreek. Sy sê daai J soos in Afrikaans, met die gevolg dat dit klink soos die Engelse Y. Ek wou my doodlag toe sy een dag vir een van die tannies op die dorp probeer vertel van iemand wat so suinig is, hy’s sommer ‘n regte Jood. “He’s a real Jew (uitgespreek You), you know”. En hoe meer sy vir die tannie probeer sê die ou is ‘n Jood, hoe meer dink die antie my Ouma sê die ou is soos sy. Shame, sy’s eintlik die een wat nog altyd die familie bymekaar hou. ‘n Sterk vrou.
Dit herinner my ook aan my Ouma-hulle wat alles opgaar. Die grootste klomp stront word orals in bokse opgegaar. En etenstyd…. My Ouma kook baie kos. Dit wat oorbly word in die yskas gebêre want ‘n mens mors mos nie met kos nie. Bakke en bakke ou kos in die yskas. As die familie gaan kuier maak ons seker dat iemand haar aandag aftrek sodat ons dit kan weggooi, anders gaan jy beslis ‘n week terug se rys kry om te eet. Een dag besluit sy om die vleis “van nou die dag” in die yskas warm te maak en net groente en rys by te kook. So begin die gekokery en dis pampoen en alles. Die vleis word sommer in die mikrogolf gedruk om warm gemaak te word en die bak so op die tafel gesit sodat die kos opgeskep kan word. Eerste happie van die vleis word daar toe agtergekom dat dit al die tyd Matabellapap is, en nie VLEIS NIE. Klonterige Matabellapap. Dit was nogals disgusting.
Ek dink ek sal vir dae lank kan aangaan oor my familie en hul “abnormaliteite”. My Ouers was Kruger Wildtuin toe vir hulle wittebrood. Daai tyd was daar blykbaar nog nie toilette in die chalets nie, net toilette buite wat jy moes deel, of ‘n piepiepot in die kamer. My ma-hulle kuier toe so bietjie en drink bier, en sy wil nie na die buitetoilette toe gaan nie en piepie toe maar in die piepiepot. Die volgende oomblik is daar net skuim orals. Sy huil want sy drink nie, en nou het sy, en nou piepie sy skuim, en nou is sy besig om dood te gaan. My Pa het toe al die tyd Eno’s in die piepiepot gegooi. My arme ma.
My ma is baie baie naïef. Sy glo enige storie wat mense haar vertel. Ons het haar al vertel dat Paul Kruger se lyk in die standbeeld om Kerkplein begrawe is en sy het dit geglo. Sy en my Pa ry in die kar en sien ‘n plaasdam met ‘n draad deur die middel gespan. “Haai” sê my Pa. “Dis nou slim van hierdie boer. Die beeste kan nou eers die een kant van die dam leegdrink en dan na die ander kant beweeg om daardie kant leeg te drink terwyl die kant weer vol word”. My ma stem toe saam dat dit ‘n baie slim boer is, net om so paar kilometers verder te kliek wat aangaan en haar kop te skud en tong te klik.
Ek is seker ek is die normaalste in my familie.
Ek hoop so…






Onlangse Kommentaar