Mag ‘n mens moffie sê?

21 01 2008

Ek sit en wil nog skryf oor Steve en alles wat daarmee gepaard gaan.  My beskeie opinie gee, en toe bel my ma.  My jongste boetie het teruggekom van die Kaap af.  Ons het hom Donderdag op die stasie gaan haal.  Almal het nog altyd geweet hy’s gay.  Ek dink die familie het seker maar gehoop dis net ‘n fase en vir hulself agter bak skinderhande gesê “this too shall pass”.  Well, die enigste ding wat gepass het is nog ‘n jaar en hy’s nou EERS gay.  Voorheen was dit nie so oplettend nie.  Ek het nog altyd gedink/gehoop dat ek redelik oopkop is, dat ek myself in ander se posisies kan plaas en dan oordeel en besluit, maar nou… ’n Mens kan nou sien my boetie is gay.  Ek weet nie of dit polities korrek is om te sê dat hy fyner is as ‘n jaar terug en dat hy sommer net gay lyk nie.  Ek weet nie wat is die polities korrekte terme om te verwys na mense wat homoseksueel is nie.  Ek weet nie of dit my meer pla of ek polities korrek is of nie.  My een broer is ‘n moffie en die ander een nogals ‘n ekstremistiese Christen.  Mens mag seker nie sê moffie nie?  Ek weet nie.  My ander broer kan leliker woorde as moffie gebruik om sy jongste broer te beskryf.  Ek weet niks nie.  Moet ek sê gay, homoseksueel, moffie? Mens word groot dat “sulke mense” moffies is.  Nikse ge’sugar-coating’ nie.  Ek weet nie of as ek in sy skoene was of dit my sou gepla het as iemand na my as ‘n moffie verwys nie.  Dit sou wel as hulle ander verwysings gebruik het.  Die familie sukkel hulle gatte af (no pun intended) om dit te aanvaar.  Ek dink ek is heel okay daarmee.  Inteendeel, my jongste broer is die persoon op aarde vir wie ek die meeste bewondering het.  Hy het al soveel deurgemaak en staan altyd weer op. 

Kies ‘n mens om gay te wees?  Hy bly nou by my ma en haar vriend/boyfriend/stukkie (ek weet ook nie hoe om na hom te verwys nie)  sukkel nog erger as my ma om dit te aanvaar.  Die oom is al amper sestig.  My ma was nog altyd iemand wat ons probeer leer het om ‘oopkop’ te wees, maar sê self dat hierdie een ding is wat sy nie kan verstaan nie.  Sy dink hy’t gekies om gay te wees.  Ek weet nie? Sy is nog lief vir hom, maar sy is ongemaklik met die leefstyl wat hy uitleef.  Ek verstaan wat sy bedoel.  My broer bring iemand huis toe oor die naweek wat oorgeslaap het.  Ek het maar voorgestel sy praat met hom daaroor op ‘n mooi manier en verduidelik dat dit nie iets is wat sy in haar huis wil hê nie.  Nie op ‘n bakleierige manier nie, maar dat sy dit op ‘n mooi manier vir hom verduidelik.  Ek weet nie wat om anders te doen nie.  Ek weet net dat ek verstaan dat sy en die oom die huur betaal en dat hulle nie nodig het om ongemaklik in hul eie plek te wees nie.  Ek sou nie wou nie.  Ek het nie ‘n probleem daarmee dat my broer mans bo vrouens verkies nie.  Ek dink dis dalk net die feit dat dit iets is wat sosiaal nog nie so aanvaarbaar is nie, en dat ons ongemaklik daarmee voel.  Ek en hy gaan nogsteeds uit, dans saam die “macarena”, kuier saam.  Hy’s my hart se punt.  Ek sukkel net om te weet hoe ek veronderstel is om dit alles te aanvaar.  Ek dink nie dis die feit dat hy gay is wat my pla nie, dalk is dit net dat ek nie wil sien hoe hy iets met ‘n ander man doen nie.  Ek wil ook nie juis graag sien hoe my ander broer iets met ‘n vrou doen nie.  My suster en haar boyfriend se gevryery is al klaar erg genoeg.  Moet ons maar net aanpas by dit wat hy glo en wil doen?

‘n Mens word geleer dat dit onnatuurlik is om homoseksueel te wees, dat dit onrein is en dat God jou sal straf.  Dalk is dit hoekom mens so sukkel om dit te vereenselwig met die mense vir wie jy lief is.  Ek is nie iemand wat die Bybel aanhaal nie.  Mense lees baie keer net wat hulle wil daarin.  Elkeen het sy eie interpretasie. 

My hoop vir my broer is dat hy iemand sal kry wat hom sal liefhê en sal oppas, iemand vir wie hy kan liefwees en wat hom sal oppas.   Ek gee nie om of dit ‘n man of ‘n vrou is nie.  Ek wens vir hom geluk en dat sy pyn sal ophou. 


Actions

Information

24 responses to “Mag ‘n mens moffie sê?”

21 01 2008
George Maru (17:36:16) :

Gits, ek is so bly jy blog weer dat ek amper vergeet het wat ek wou sê.

Ek dink dit is OK dat jy en jou familie so bietjie in skok is. Ek dink dit is maklik om abstrak oor enigiets te dink, en dan is dit baie maklik om oopkop te wees oor meeste goed. Dit is wanneer jy direk gekonfronteer word met dit wat jy nie verstaan of ken nie, dat die popo die fan tref. Wat jy hierbo skryf is baie waar. (Baie) mense dink aan gay net in terme van seks. Dus is die eerste ding waaraan mense dink die seks. Maar as jy of jou ander boetie by die huis kom met iemand van die teenoorgestelde geslag dan is dit “haai, kyk hoe verlief is hulle” ens. Daar word nie gedink aan die seks nie. En soos jy opmerk, sal dit jou ook afsit.

Gee dit tyd.

En oor jou vraag - dit hang af wie dit sê.

21 01 2008
sonkind (18:19:53) :

George sê eintlik alles wat daar gesê kan word. Jou boetie is gay, maar is hy regtig iemand anders as wat hy gister en eergister en verlede jaar was?

Miskien “lyk” hy vir jou nou meer gay, omdat hy vir die eerste keer werklik self vrede gemaak het met wie hy is en gemaklik in sy eie vel voel. Maar hy is nog steeds jou broer. Kyk verby die ’seks’ ding en sien iemand wie se voorkeure anders as heteroseksuele mense is, maar iemand wat nie minder mens is as gevolg daarvan nie. Iemand wat net so seer sal kry soos ek en jy as ons verhoudings misluk.

Hy is eerstens mens en dan jou broer. ‘Gay’ is net sy seksuele voorkeur. Dit maak hom nie minder menswaardig, krimineel of iets uit die bose nie. Ek glo nie God se genade is so eng dat hy elke gay voor die voet gaan hel toe stuur nie. Ek dink daar is hordes straight mense wat ‘n beter tender inhet vir die hel as baie gay mense.

Soos George sê, gee dit tyd. Gee jouself tyd.

21 01 2008
mykopop (19:01:30) :

Ek het nou net so pas ‘n album van Elton John waarna ek vroeër baie geluister het, maar vir ‘n paar jaar nie kon luister nie, vir die tweede keer vandag deurgeluister. (Dit het in 1969 al verskyn.)

22 01 2008
Freddy (05:16:26) :

Oopkop

Dis nice dat jy bereid is om jou eie worstelinge so uit te spel vir die hele wereld om te lees.

En ek dink George is reg. Gewoonlik, sodra mens hoor iemand is gay, is jy geneig om NET daaraan te dink, asof dit die enigste kwaliteit van die persoon is.

22 01 2008
Freddy (05:24:53) :

Kopop

Ek het nou vergeet om te vra: Wat het Empty Sky uit te waai met hierdie post? Ek meen, jy is welkom om dit enige plek seker te se, ek het net gewonder of daar ‘n verband is?

22 01 2008
BB (06:25:47) :

Love him anyway. x

22 01 2008
Zee (06:51:49) :

In ons familie is daar 3 gay mans. Hulle is wonderlike persone!! As ek partykeer sien hoe hulle ander mense hanteer raak ek skaam oor ons “straight” ouens. Hou net aan om lief te wees vir hom!

22 01 2008
^stoutsus^ (06:57:22) :

As hy ok is daarmee dat jy hom ‘n moffie noem, is dit mos reg. My boeta noem my gereeld name en party is sommer bar, maar baie snaaks. Dis die tipe verhouding wat ons het met mekaar. As iemand anders my so moet noem sal dit regtig eina wees; nie oor die naam nie, maar oor die motief daaragter.

22 01 2008
skoenlapr (08:58:29) :

aanvaar … wees lief vir hom … beweeg aan

moenie hom enige name noem nie … hy’s ook ‘n persoon

dalk is ons vir hom anders … maar hy skel ons nie uit as ’straights’ nie … LOL … ve’staan djy?!

22 01 2008
skoor (09:36:31) :

Jou ma het die volste reg om hom aan te spreek oor wat vir hulle aanvaarbaar is in HULLE huis, en wat nie, maar sy is tien teen een bang om hom te verjaag/verloor in die proses.

Ek sou, as ek jy was, eerder met hom hieroor praat, en aan hom die werklikheid van die situasie probeer verduidelik.

Gay mense kan soms selfsugtig wees, maar ook so probeer om ‘normaal’ op te tree, dat hulle vergeet dat ander nie hulle ‘normaliteit’ onderskryf of sommer sal verstaan nie.

Red jou ma se verhouding, praat met jou broer, en stel die grense vroeg in die tuiskoms, anders gaan julle gesin ‘n helse klomp onnodige spanning en onderlangse verwyte op julself laai vir die toekoms.

22 01 2008
karoles (10:03:03) :

Oopkop, ek weet presies hoe jy voel. My pa is gay, ek weet nie anders nie. My sussie is lesbies, ek aanvaar haar soos sy is. Hulle vriende is fantasties, ek moet eerlik sê dat ek altyd baie lekker saam met hulle kuier. Dis absoluut nie my voorkeur om ‘n partner van dieselfde geslag te hê nie, maar ek respekteer hulle en hulle vriendekringe. Ek is ook nie skaam vir hulle nie, ek is baie lief vir hulle.

22 01 2008
corlivandermerwe (12:06:51) :

Sonkind is 100% reg, daar is wonderlike gay mense daar buite en veel eerder `n paar straight mense wat hulle plek in die warm villa bespreek het. Hanteer jou broer met respek en vra dat hy dieselfde vir jou en jou ouers doen. Ek glo beslis nie dat jou gemiddelde gay persoon dit so kies nie want geen mens gaand daardie tipe verwerping en pyn kies nie. Wees lief vir hom vir wie hy vir jou is en dit is dit.

22 01 2008
Tersia (13:58:19) :

Ek stem saamt Zee. Ek ken gay mense, en ek moet se die meeste van hulle het beter maniere as baie straight mense wat ek ken!! Ek dink steeds hulle is ook beter vriende, want ek het dit al ervaar.

22 01 2008
mykopop (14:01:36) :

@Freddy: Is Sir Elton dan nie ook een nie? Ek dog maar net ek probeer hint dat ek hom nie veroordeel nie - ek luister nog sy musiek!

22 01 2008
rosalindfranklin (14:18:44) :

Hallo,

Ek dink nie mens kies om jy te wees nie, dit net soos jy IS. Dit is ‘n IS en ‘n WEES. Ek dink nie dit is ‘n voorkeur nie, want die woord keur deur op keuse, dit is net soos wat dit is.
Net soos wat heteroseksuele nie kies, om heteroseksueel te wees nie, hulle is net, so is gay mense net.
En seks is vir almal net ‘n deel van hulle bestaan, dit is mos nie mens se hele lewe nie? Almal het ook ‘n huis, ‘n werk, dalk ‘n troeteldier, skuld, paaiemente, worries, hartseer en vreugde, drome en baie dinge, seks maak net ‘n deel uit van ‘n mens se bestaan.

22 01 2008
Bertus! (14:49:45) :

Ek hou nogal van die woord sodomiet, maar dis net ek.

Moffie is nie vir my ‘n nice woord nie, hoofsaaklik omdat dit in Afrikaans ook ‘n sinoniem vir “swakkeling” of “lafaard” kan wees. Wat niks met homoseksualiteit te doen het nie.

22 01 2008
TristonJ (17:39:28) :

noem hom jou broer… dis wie hy is, nie wat hy is wat tel.

22 01 2008
Da Mario (20:56:53) :

Damn, ek mis dit om saam met jou te kuier. Jy’s darem vreeslik skaars vandat jy verloof is. :sad:
Vir my: Ek kan dit net nie verstaan nie, maar ek het nie nodig nie. Hoekom enige dude nie van ‘n girl sal hou nie kan ek net nie verstaan nie, maar dis seker nie belangrik nie. Whatever hy doen is sy keuse en ek sal nie oordeel nie. Maar hoekom worry oor of jy polities korrek is? Hy maak sy keuses en jy joune, sekerlik kan julle steeds saamleef?
Ek gaan egter met George verskil. Dit maak nie eers in die minste saak wie wat se nie, ek is wie ek is en wie nie daarvan hou nie, dis hulle probleem. As iemand my womeniser wil noem… whatever. Water van ‘n eend se rug af vertel ek jou. Hoekom fyngevoelig wees oor die woord moffie (sodomiet… :lol: Bertus!) as dit is wat jy is. Dis omdat sommige gays so flippen fyngevoelig is dat sulke goed ‘n issue is. So al asof hulleself nie eers vrede kan maak met wie hulle is nie….

Nice post Anja, dis jou boetie, en dis al wat saakmaak. Maak dit werklik saak van wie hy hou?

23 01 2008
Freddy (05:39:51) :

lol @ Bertus
Ja, hy is, Kopop.

EK verskil wel van Da Mario. Wel, ja, wat maak dit nou eintlik saak wat ander van jou se^? Maar AS dit saak maak, dan is dit eenvoudig so. Dit maak gewoonlik saak wat jou familie se, veral as jou verhouding met hulle vir jou NB is. As daardie verhouding nie NB is nie, dan maak dit nie saak wat hulle dink of se^ nie. In die praktyk werk dit nie altyd so lekker uit om net te dink: “As jy ‘n probleem daarmee het, is dit JOU EIE probleem” nie.

Strongs, Anja.

23 01 2008
Da Mario (07:07:02) :

Wel Freddy, as mense ‘n probleem het met iets wat iemand se, dan is dit mos obviously HULLE probleem en nie joune nie of hoe? Tensy jy ‘n people pleaser is.

23 01 2008
René (14:52:49) :

Oi, Anja - ek stem dat dit jou boetie is - en dis die belangrikste!! Wees lief vir hom IN ELK GEVAL!

Ek het ‘n vragie vir julle wat so slim is - hoe kry mens ‘n closet-gay uit die closet uit???

24 01 2008
TristonJ (08:16:56) :

stamp hom…hehehe… nee eerlik René hy moet self uit klim as dit is wat hy wil doen, maar soms is hulle waarlik heel gelukig daar in die kas… tyd tyd tyd en understanding is al wat hulle nodig het nes die res van ons.

30 01 2008
Hans Matthysen (20:21:03) :

Is daar een van ons wat nie sonde het nie? Nee, dus kan ons nie klippe gooi nie en tog, kan ons nie ons eie sonde regverdig nie. Dien God tot die beste van jou vermoë, volgens Joh. 17 v 3, en die oordeel van mense, sal nie die oordeel van God verstaan nie.

1 02 2008
Xanika (08:33:49) :

Anja, sterkte. Hy bly jou boetie. My boetie en sy meisie bly saam en vir my ouers is dit iets verskrikliks. Soveel so dat hulle nie meer my boetie en sy meisie toegelaat het om te kom kuier nie en ook nie na hom toe gegaan het nie. In tussen het hulle darem besef dit is nie die moeite werd nie, my boetie-hulle kom kuier weer vir ons en my ouers het ook al vir hulle gaan kuier. En nou dat ons die meisie leer ken, besef ons sy is nie so “bad” nie.
Ons kuier by vriende met ‘n laaitie van so 5. Sit iewers vir sy pa en wag en daar loop twee ouers verby. Haak die outjie af en sê “Ma daar loop ‘n moffie”. Sy ma baklei met hom waarop hy sê “Maar Ma, dit is ‘n moffie”!

Leave a comment

You can use these tags : <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>