Hoekom?

27 03 2008

Ek weet ek blog te min.  Heeltemal te min.   Met die nuus van die baba wat oppad is is my kop heeldag besig.  Eintlik dink ek moet net die nuus ignoreer.  Dit onstel my verskriklik.  Die hele Sheldean Human storie wat nou weer so in die nuus is en dan ook die volgende artikel deur Francois Oosthuizen in die Beeld:

6 keer lewenslank ná hy sy dogter verkrag:

Die man wat sy sesjarige dogtertjie oor ’n tydperk van vier jaar verkrag en foto’s daarvan geneem het, is gister in die Johannesburgse hooggeregshof tot ses keer lewenslange tronkstraf gevonnis.

Hy moet ’n bykomende 14 jaar tronkstraf uitdien vir onsedelike aanranding, oortredings van die Film- en Publikasiewet en crimen injuria.

Regter Naren Pandya het in sy uitspraak uit verskeie hofsake aangehaal en gesê verkragting is ’n kanker wat die samelewing verteer. “Dit is verskriklik dat kinders nie veilig is om vry en sonder vrees te leef nie.”

Volgens Pandya was die man se sielkundige verslag kripties en deurmekaar en kon dit nie tot versagtende omstandighede bydra nie.

Die man beweer in dié verslag hy is as kind verskeie kere gemolesteer deur die huismoeder van die kinderhuis waar hy gebly het.

Dit kon nie bewys word nie.

“Selfs al kan die beskuldigde se misdade aan sy verlede gekoppel word, verklaar dit nie hoekom hy foto’s van die seksuele misdrywe geneem het nie,” het Pandya gesê.

Die voorvalle, wat tussen 2002 en 2006 plaasgevind het, is deur die meisie se ma afgeneem en die foto’s daarvan is op DVD gestoor.

Die ma, wat op dieselfde aanklagte tereggestaan het, het intussen ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.

Dit was nie die eerste keer dat dié man hom aan seksuele misdade skuldig gemaak het nie.

Hy is in 1990 skuldig bevind aan die onsedelike aanranding van sy dogter (6) uit ’n vorige huwelik.

Volgens die meisie se pleegma is hulle tevrede met die hofuitspraak.

Sulke artikels ontstel my geweldig erg.  Ek is bang ek sal nie my kinders kan beskerm teen iemand wat hulle onskuld so wil wegvat nie.  Hoe beskerm mens jou kinders?  En hoe doen mens dit sonder om oorbeskermend te wees?  Bid?  Baie bid?  Ek word naar as ek sulke goed lees.  Ek kan net nie verstaan watter tipe mense sulke goed doen nie.  Ek wonder of ‘n mens veronderstel is om te verstaan.  Dis vir my verskriklik dat die meeste van hierdie molesteerders en verkragters beweer dat dit met hulle ook gebeur het as kinders.  As jy dan weet hoe dit voel, hoekom doen jy dit dan?  Hoekom, hoekom, hoekom.