PZN
21 05 2008Soos wat ek deur die blogosfeer dwaal lees ek dikwels inskrywings oor die hele Steve-Natasha-Janine-ding. Ek sien Janine blog nou by Bosparra. Ek sien almal baklei oor en weer. Elke kant stel sy saak en is op aanval en verdediging. In die algemeen dink baie sy’s sletterig, ander sê sy’s misbruik. Die Steve-aanhangers se reaksie teenoor hom wissel van teleurgesteld in hom tot die wat hom afgeskryf het (sommige van hulle nou “boesemvriende” met Janine), en dan natuurlik die wat nie sal ophou glo in hom en sy bedoelings nie.
‘n Hele paar jaar terug het Bles Bridges ook groener weivelde gesoek. Ek wonder wat mense se reaksie sou wees as hy daai tyd ‘n blog moes gehad het. Ek dink dit sou seker min of meer dieselfde uitwerking gehad het. Bill Clinton, Jimmy Swaggart… nog omies wat aan die oorkant van die pad gaan wei het.
Blykbaar gaan Janine ‘n biografie uitbring. Ek weet nie of dit net ‘n grap is nie, maar as dit nie is nie wonder ek net wie gaan dit koop? Wie WIL dit lees? Die hele storie is nou al klaar holruggery, selfs die media het nie veel meer om te sê nie. As dit uitkom dat Steve wou gehad het sy moes ‘n aborsie hê, as hy haar misbruik het, haar wou verkoop aan reisende slawehandelaars, as hy wou gehad het sy moes net pienk dra, as sy skelm sy kinders geknyp het, as as as…Mense se opinies gaan waarskynlik nogsteeds dieselfde bly. Steve gaan nie minder beroemd wees nie, hy gaan nogsteeds CD’s verkoop, nogsteeds geld maak, nogsteeds aangaan. Gee mense werklik om wat gebeur het. Wil mense die onbelangrike details hê? Wil jy weet wie is die meer skuldige een, die swartste een, wie wat gedoen het vir hoe lank?
Oom Bles het sy vrou verneuk en mense onthou hom op die ou einde nogsteeds. Ek onthou die ander vrou se naam was Marietjie. Wie sy was, of sy ‘n IK van meer as 70 gehad het, wat sy van gehou het, hoekom sy gedoen het wat sy gedoen het maak nie saak nie. Ons onthou vir Bles. Ons onthou sy rooi rose en Ruiter van die windjie. Nou het Steve sy vrou verneuk en mense gaan hom ook bly onthou. Janine se naam gaan ‘n vae herinnering word, mense gaan nogsteeds dronk word op die Bloubul en vrouens nogsteeds gil by Steve se shows. Steve gaan nogsteeds die letsels van hierdie episode en sy operasie hê, petrol gaan nogsteeds duurder word, Natasha en Janine nogsteeds hartseer word en mense gaan nogsteeds Steve se naam gebruik om vir hulself ‘n paar rand in die sak te bring.
Ek kies nie kant nie, ek wens hulle altwee sterkte en voorspoed toe en ek hoop hulle het altwee lesse geleer uit die foute wat hulle gemaak het of nie gemaak het nie, of dalk gemaak het. Ek wens net die storie wil nou heeltemal klaar raak.
Comments : 11 Comments »
Categories : Uncategorized






Recent Comments