Für Elize

31 07 2008

My Ma soen in die oggend die kappertjies op haar stoep se blomme om hallo te sê.  Sy glo in feëtjies.  Sy dra funny oorbelle.  Sy dra Red Door parfuum.  Sy sê sy moes nooit ‘n Ma gewees het nie, sy’s net nie ma-materiaal nie.  Tog sou ek nie ‘n beter Ma kon kies nie.  Sy glo dat mens altyd lipstick moet dra.  Sy’s oopkop.  Sy’t ons vier kinders nog altyd grootgemaak om vir onsself te probeer dink.  Sy meng nie in.  Sy gee raad maar dwing niks op ons af nie.  Sy lees Andrè P. Brink, Dalene Matthee, Ingrid Jonker, NP Van Wyk Louw, Bryce Courtenay, daar’s boeke en boeke en boeke in haar huis.  Sy luister Pavarotti en Bocelli.  Sy’t vier kinders in vyf jaar se tyd gehad.  Ek kan nie dink hoe sy dit gemaak het met die vier van ons nie.  Ek onthou toe ek klein was het ons almal so gelyk ge-”mamma, mamma, mamma”, dan sê sy:  “Hou net op om my te f*kken Mamma.  Noem my iets anders”.  Ons het haar mal gemaak.  Ons lag vandag nog daaroor.  Ons het nooit honger gaan slaap nie, maak nie saak hoe sleg dit gegaan het nie.  My Ma is lag, en lig en sag.

As dit so moes gebeur dat sy nie deur hierdie tyd kom nie, dat sy weggevat word, wil ek haar onthou vir die soms deurmekaar, sagmoedige mens wat sy is.  Ek wil hê my kinders moet weet dat hulle Ouma een van die wonderlikste mense is.  Dat sy my geleer het om mense dieselfde te behandel, om op niemand neer te kyk nie, om te gee.  Sy’t my geleer dat die lewe nie net swart en wit is nie, daar’s grys tussenin en dat dit iets is wat mens vir jouself moet uitsort.  Sy’t my geleer om te vergewe.  Ek hoop sy weet sy’s lankal vergewe vir dinge wat sy vergifnis voor gevra het en dat ek haar oneindig liefhet en hoop dat sy my vergewe vir die dinge waarvoor ek vergifnis nodig het.  ‘n Mens sukkel die meeste om jouself te vergewe.  Ek is baie soos sy en ek is niks soos sy nie.  Ons verstaan mekaar.

My Ma is ‘n mooi vrou.  My Ma voel nie goed genoeg nie.  Ek wens sy’t geweet sy is, sy was gebore om te wees.





Gasvry

28 07 2008

Krista se inskrywing oor die klank van ‘n poep het my laat dink aan my gasvrye familie.  Ek poep nie voor mense nie.  Dalk in my slaap, maar dan weet ek nie daarvan nie.  Die res van my familie is ‘n ander storie.  Ek kan darem sê dat my pa redelik ordentlik is en ook nie sommer een sal laat uitglip nie.  My ma en haar familie is … wel… anders. 

 

As mens by my ouma-hulle kuier en in die oggende vroeg genoeg wakker is hoor jy hoe my Oupa in die gang af loop.  As hy poep sê hy net “More gat”.  In die middag is dit “Middag gat” en in die aand… “Naand gat”.  My jongste broer hou nie daarvan as mense gasvry is nie en my Oupa hou daarvan om die teerpuntjie uit te buit.  Hy sit op die bank en lig sy been op en wen sy arm so op voordat hy een laat gaan net sodat my broer amper histeries moet raak.  Ek dink my Ouma is al te gewoond daaraan om iets te doen.  My Oupa sal soms ook net sê “Daarsy, soos ‘n plaastelefoon, drie kortes en twee langes”.  Ek skud maar net my kop. 

 

Didi probeer my uitvang met die hele “trek gou my vinger” storie maar ek val darem nie daarvoor nie.  My Ma se jongste suster sê sy lê in die aande in die bed en dan snork sy eers sodat haar man moet dink dat sy slaap voordat sy poep.  My Ma self is nie een wat glo aan knyp nie en my ander broer sê altyd “Speak to me Oh wise and toothless one” voordat of nadat hy gasvry was.   My suster se Liefie poep in die bed en trek dan die kombers oor haar kop terwyl hy haar vasdruk.  Mens kan nie familie kies nie ne.





Babelse verwarring

25 07 2008

In Douglas Adams se boek Hitchikers Guide to the Galaxy praat hy van ‘n Babel Fish. 

The Babel Fish is small, yellow, and simultaneously translates from one spoken language to another.

When inserted into the ear, its nutrition processes convert sound waves into brain waves, neatly crossing the language divide between any species you should happen to meet whilst travelling in space.

Some say that the evolution of the Babel fish could not have been accidental, and hence that it proves the non-existence of God.

Arthur Dent, a surviving Earthling, commented only ‘Eurgh!’ when first inserting the fish into his ear canal. It did, however, enable him to understand Vogon Poetry – not, necessarily, a good thing. “

Ek dink ek kort so iets.  Dit voel vir my asof ek soveel wil sê en aan te veel goed op een slag dink die laaste ruk.  Ek soek iets wat al my gedagtes so kan oordra aan mense dat hulle kan verstaan wat ek bedoel.  My brein wil net nie afsit nie.  Dit voel of ek oorweldig is.  Oorweldig deur my eie gedagtes, oorweldig met alles wat in die nuus gebeur, sommer net oorweldig deur alles om my. 

My hart is seer oor my Ma wat volgende week Kaap toe gaan vir die histerektomie.  Sy is so bang, en ek weet nie hoe om vir haar hoop te gee nie, want hoe deel mens iets uit wat jy self nie eintlik het nie.  Ek is bang sy maak dit nie, maar ek wil hoop en bid dat sy doen sodat sy haar kleinkinders kan sien.  My niggie het uitgevind sy’s swanger en my nefie se meisie is ook swanger.  My Ouma-hulle kry in ‘n jaar se tyd 3 agterkleinkinders.

Krista en Jaco het weer gewys dat hulle nog net vlerke moet kry want hulle is klaar engele.  Dankie julle. 

Stoffel het al ‘n hele tas vol klere en dit voel al hoe meer na die werklikheid.  Hy skop al hard.  Ek voel skuldig omdat ek nie uit my nate wil bars van opgewondenheid nie.  Ek dink die bang wees versmoor die opgewondenheid. 

 

Ek probeer om by almal se blogs uit te kom.  Almal klink bedrywig.  Hoop almal het ‘n lekker naweek.





DRUMROLL PLEASE

3 07 2008

Ons was toe gister by die dokter.  Dis ‘n ander ginekoloog as waarheen ons gewoonlik gaan.  Hierdie omie is oud.  Sy broek is tot so twee hande bo sy naeltjie opgetrek en sy das is ingesteek in die broek in.  Sy hare lyk soos Einstein s’n.  Hy’s baie vriendeliker as die ander dokter.  Hy wieg as hy met ‘n mens praat.  Ek het vir Didi gesê ek hoop net die dokter maak dit tot November toe sodat hy die baby kan vang. 

 

En dan vir die verwagte nuus.  Ons het alles probeer.  Stoffel is gekielie, geskud, mooi mee gepraat, maar niks.  Hy lê toe op sy maag en weier om om te draai.  Nou is ons vir nog ‘n maand in die duister oor hoe Stoffeltjie gaan piepie.  Ons gaan weer die 4de Augustus.   Ons het darem ‘n oulike sonar foto van sy handjie gekry.  Stoffel weeg al 380g.  Ek begin al hoe meer dink dis ‘n dogtertjie, sommer net omdat sy so hardegat is en niks wil weet van saamwerk nie.  ;)

O ja, die dokter sê ek gaan nie ‘n epiduraal kan kry met my rugprobleme nie, so dis of normaal kraam sonder ‘n epiduraal of ‘n keiser.  Ons dink nou maar mooi daaroor. 





Boy/Girl

2 07 2008

Vanmiddag gaan Stoffeltjie weer dokter toe vir sy foto.  Ons kon nie laas maand sien of dit nou Stoffel of Stoffelientjie is nie, so hou seblief duimvas dat ons vandag sal kan sien.  Ek kan nie meer wag nie, ek tel al die ure af.  Volgens die ouvroustories en bygelowe wat ek nou al raakgelees het, is dit ‘n seuntjie.   Stoffel dink nogsteeds my blaas is ‘n trampolien, en in die aande doen hy karate hier binne.

 

Mense glo darem maar snaakse goed.  Ek sal laat weet hoe dit gegaan het.