DRUMROLL PLEASE

3 07 2008

Ons was toe gister by die dokter.  Dis ‘n ander ginekoloog as waarheen ons gewoonlik gaan.  Hierdie omie is oud.  Sy broek is tot so twee hande bo sy naeltjie opgetrek en sy das is ingesteek in die broek in.  Sy hare lyk soos Einstein s’n.  Hy’s baie vriendeliker as die ander dokter.  Hy wieg as hy met ‘n mens praat.  Ek het vir Didi gesê ek hoop net die dokter maak dit tot November toe sodat hy die baby kan vang. 

 

En dan vir die verwagte nuus.  Ons het alles probeer.  Stoffel is gekielie, geskud, mooi mee gepraat, maar niks.  Hy lê toe op sy maag en weier om om te draai.  Nou is ons vir nog ‘n maand in die duister oor hoe Stoffeltjie gaan piepie.  Ons gaan weer die 4de Augustus.   Ons het darem ‘n oulike sonar foto van sy handjie gekry.  Stoffel weeg al 380g.  Ek begin al hoe meer dink dis ‘n dogtertjie, sommer net omdat sy so hardegat is en niks wil weet van saamwerk nie.  ;)

O ja, die dokter sê ek gaan nie ‘n epiduraal kan kry met my rugprobleme nie, so dis of normaal kraam sonder ‘n epiduraal of ‘n keiser.  Ons dink nou maar mooi daaroor.