Für Elize

31 07 2008

My Ma soen in die oggend die kappertjies op haar stoep se blomme om hallo te sê.  Sy glo in feëtjies.  Sy dra funny oorbelle.  Sy dra Red Door parfuum.  Sy sê sy moes nooit ‘n Ma gewees het nie, sy’s net nie ma-materiaal nie.  Tog sou ek nie ‘n beter Ma kon kies nie.  Sy glo dat mens altyd lipstick moet dra.  Sy’s oopkop.  Sy’t ons vier kinders nog altyd grootgemaak om vir onsself te probeer dink.  Sy meng nie in.  Sy gee raad maar dwing niks op ons af nie.  Sy lees Andrè P. Brink, Dalene Matthee, Ingrid Jonker, NP Van Wyk Louw, Bryce Courtenay, daar’s boeke en boeke en boeke in haar huis.  Sy luister Pavarotti en Bocelli.  Sy’t vier kinders in vyf jaar se tyd gehad.  Ek kan nie dink hoe sy dit gemaak het met die vier van ons nie.  Ek onthou toe ek klein was het ons almal so gelyk ge-”mamma, mamma, mamma”, dan sê sy:  “Hou net op om my te f*kken Mamma.  Noem my iets anders”.  Ons het haar mal gemaak.  Ons lag vandag nog daaroor.  Ons het nooit honger gaan slaap nie, maak nie saak hoe sleg dit gegaan het nie.  My Ma is lag, en lig en sag.

As dit so moes gebeur dat sy nie deur hierdie tyd kom nie, dat sy weggevat word, wil ek haar onthou vir die soms deurmekaar, sagmoedige mens wat sy is.  Ek wil hê my kinders moet weet dat hulle Ouma een van die wonderlikste mense is.  Dat sy my geleer het om mense dieselfde te behandel, om op niemand neer te kyk nie, om te gee.  Sy’t my geleer dat die lewe nie net swart en wit is nie, daar’s grys tussenin en dat dit iets is wat mens vir jouself moet uitsort.  Sy’t my geleer om te vergewe.  Ek hoop sy weet sy’s lankal vergewe vir dinge wat sy vergifnis voor gevra het en dat ek haar oneindig liefhet en hoop dat sy my vergewe vir die dinge waarvoor ek vergifnis nodig het.  ‘n Mens sukkel die meeste om jouself te vergewe.  Ek is baie soos sy en ek is niks soos sy nie.  Ons verstaan mekaar.

My Ma is ‘n mooi vrou.  My Ma voel nie goed genoeg nie.  Ek wens sy’t geweet sy is, sy was gebore om te wees.