Ek hou van blog. Ek hou van blogs lees. Selfs hier in die blogosfeer is daar “cliques”. Sulke groepies mense wat aanklank bymekaar vind en mekaar se blogs aanvul en deel word van mekaar se lewens. Soos wat ek nou al die laaste twee jaar of wat blogs lees en blog voel mens al deel van seker mense se lewens. Jy’t gelees en ge’comment’ toe die persoon ‘n baba gehad het, is bly oor die tweede een wat oppad is, deel die seer van mense wat sukkel om swanger te raak en van die mense wat ‘n kind of kinders verloor het. Jy gaan saam op die reis deur verhoudings, verlief wees, baklei, opmaak, uitmaak, kinders maak. Jy’s deel daarvan as mense die land verlaat en ook as mense terug kom na ons land. ‘n Mens raak seker maar gewoond aan deel wees van ander se lewens al is jy nie werklik deel daarvan nie.
Ek het baie mense ontmoet juis deur die bloggery en veral toe al die “ou” crowd nog gechat het op Steve se chatroom. Dit was lekker, ons het fun gehad. Ek kry nie meer so baie tyd vir blog nie en ek lees so deur die blogs op my blogroll as ek tyd kry. Daar’s ou gunstelinge wat nooit teleurstel nie, nuwe gesiggies wat jou dag maak, soos Gert Gariep en kie (wel, seker nie meer so nuut nie, maar in elkgeval). Party van die nuwe bloggers blog vir ‘n maand of wat en verdwyn dan nog voordat mens gewoond geraak het, so jy mis hulle nie eintlik nie. Dalk is dit net ek, maar mens raak mos maar geheg aan iets wat deel is van jou lewe, al is jy nie noodwendig deel van hulle lewens nie. Jy “leer” die verskillende mense se sin vir humor en nukke en grille, al is dit net in ‘cyberspace’ en het jy nie eers ‘n idee hoe die persoon lyk nie. Dis asof daar ‘n onsigbare ‘bond’ is tussen die (veral ou) bloggers. Dalk omdat die Afrikaanse blogosfeer so klein was en nou skielik ontplof. Ou Skoor blog ook al lank, ons het resepte gekry by Skoorkos en gesels of loer saam by Skoorblok. Nou sien ek daar’s onweer in die blogosfeer. Nuwe gesiggies wat nog nie deel is van die “clique” nie en krap waar dit nie jeuk nie word gewoonlik vinnig geïgnoreer en die blogs verdwyn uiteindelik. Skoor vra toe ook mos nou of liggeraakte mense moet blog en dit sit my toe aan die dink. Dalk omdat ons al so gewoond aan mekaar is en verstaan as iets tong in die kies gesê word is daar gewoonlik nie tussen die “ou” klomp so baie catfights nie? Miskien is die “great divide” tussen die nuwelinge en die “ou bloggers” net in my kop. Daar’s ‘n paar blogs wat ek nie juis meer lees nie juis omdat ek nie lus het vir ‘n gevloek van die begin tot die einde nie. Ek is glad nie preuts nie, ek vloek self, maar wragtig dit raak soms net ‘n bietjie te veel. Die goeie ding is dat elkeen van ons ‘n keuse kan maak oor wat jy wil lees en wat jy nie wil lees nie, met wie jy wil deel en met wie jy nie wil nie. So dis eintlik heel eenvoudig, kliek die kruisie knoppie bo in die hoek aan die regterkant as jy nie van iets hou nie. Dis nie nodig om te loop en mishope soek nie, druk net die knoppie.






Onlangse Kommentaar