Hierdie jaar is so vinnig op my ek kry nie kans om te dink nie. 2008 was so ‘n warrelwind jaar. Ek het nie ‘n jaar terug gedink ek sou vandag weer getroud wees, ‘n ma of ‘n stiefma wees nie. Dinge verander so vinnig. Ek het besluit om so kort/lank/ek weet nie hoe lank eintlik nie “blog sabbatical” te vat. Hierdie laaste paar maande het ek die blog afgeskeep terwyl ek besig was om te probeer ‘cope’ met al die veranderinge van die laaste ruk. Daar was so baie kere wat ek hier wou kom raad soek, hier wou kom huil en hier wou kom lag oor dit wat my pla.
Ek kan vandag nie my lewe indink sonder Dianay nie. In die jaar wat kom gaan sy so baie dinge leer doen. Sy gaan tandjies kry, leer sit en kruip. Sy gaan meer lag en verder die reuse persoonlikheid vir so klein lyfie ontwikkel. Ek het baie geleer in die laaste paar maande. Toe ek swanger was het ek nooit gedink ek sou ‘baby blues’ hê of aan Nageboorte Depressie ly nie, juis omdat ek na die miskraam so graag ‘n baba wou hê. Min het ek geweet hoe naby aan ‘crack’ ek sou kom. Ek dink die sameloop van hoe dinge gebeur het kon dalk bygedra het tot hoe ek later gevoel het. Die eerste maand was so deurmekaar en dinge het so vinnig gebeur, ek het gevoel of ek in ‘n dwaal is en net nie kan bykom nie. Ek het nie eintlik tyd gehad om behoorlik te dink, eet of slaap nie. Toe sy eers by die huis was kon ek begin vrede maak daarmee dat sy uiteindelik hier is. Met die sonars toe ek swanger was het die dokter mos gesê dis 90% ‘n seun. Ek het my voorberei op ‘n seuntjie, op Stoffel. Toe sy gebore is was dit ‘n geweldige skuif wat ek in my kop moes maak om aan te pas. Om op ‘n manier ‘totsiens’ te sê vir die seuntjie en die drome wat ek gedroom het vir hom. Dit klink seker vreemd maar ek het die eerste ruk gesukkel om daardie skuif te maak. Dit voel soms nie of ek my swangerskap met haar kan vereenselwig nie, so asof ek swanger was, en toe nie meer nie, en toe eweskielik ‘n klein dogtertjie gekry het. Toe ek uiteindelik vrede daarmee maak en sy by die huis is het dinge nogsteeds nie ophou verander nie. Ek het net erger begin voel. Ek het voorheen gehoor dat vrouens wat as dogtertjies gemolesteer is sukkel as hulle hul eie kinders het, veral as dit dogtertjies is. Ek dink ek sou myself bietjie beter kon voorberei daarop as ek geweet het dat sy ‘n dogtertjie was. Dit voel asof ek nou eers na meer as vier maande weer bietjie mens begin voel, asof ek nou eers weer kan asem skep. In haar eerste 2 maande by die huis het ek erg gesukkel, en ek wens nou ek het met meer mense gepraat en probeer omdit uit te sort. Die enigste probleem is net dat mense so vol raad en verwyte is as jy ‘n nuwe Ma is dat hulle te besig is om ‘raak te sien’ hoe jy jou kind verkeerd vashou of iets anders wat nie eintlik ‘n reg of verkeerd het nie te kritiseer.
Ek kon haar nie bad of haar doeke ruil sonder dat my hart voel of dit uit my bors wil ruk en ek wil kots nie. Die gedagte as ek haar kaal sien dat iemand met haar sal lol put my uit. Ek het so leeg getap en verby-dood-moeg gevoel. Ek ‘cope’ eintlik nou vir ‘n slag ‘n bietjie beter. Ons lag en speel en sing ‘lullabies’ met Karen Zoid, Eva Cassidy en Tracy Chapman as agtergrondsangers. Sy raak so chubby en so cute.
My Ma weet wat met my gebeur het en dis vandag eers wat ek nie genoeg vir haar kan sê dat sy moet ophou om haarself daarvoor te verwyt nie. Dit sal seker nie help nie, maar ek wil hê sy moet weet dat ek vandag weet dat daar niks was wat sy kon doen om dit te keer nie. Ek kan nie my kind 24 uur ‘n dag oppas nie, al wil ek. Ek kan my beste probeer om situasies te vermy waar iemand haar kan molesteer, waar iemand haar kan seer maak. Ek sal haar vertel wat kan gebeur en haar bewus maak van die siek mense wat saam met ons op hierdie planeet rondloop. Dit was ‘n familielid wat my gemolesteer het en om haar weg te hou van familie af, van vreemdelinge af en selfs van haar pa af gaan maak dat sy soveel uitmis, en dit gaan maak dat ek my uitbrand. Dis onregverdig teenoor Didi om hom nie te vertrou nie, hy het klaar een dogter en as ek net sien hoe erg hy oor haar is, is my vrese en wantroue onredelik. Hy’t ge’cope’ toe ek nie kon nie, hy was daar. Ek het twee mense vertrou met my gevoelens en hulle raad was om met iemand te gaan praat sodat ek kan vrede maak met dit wat gebeur het. Ek het gedink ek het daarmee vrede gemaak, ek het gedink ek het aanbeweeg, maar ek dink nou ek het myself meer ge’fool’ as vir enige iemand anders. Ek wou nooit ‘n dogtertjie hê nie want ek was te bang vir die sluise wat in my kop sou oopgaan. So ek gaan my ‘blog sabbatical’ gebruik om my kop ‘n bietjie skoon te kry en aan te beweeg. So baie van die dinge wat ek gedink het voordat ek vir Dianay gehad het maak nou nie meer sin nie. Ek voel so sleg oor die oordeel wat ek oor ander ouers uitgespreek het voordat ek geweet het hoe bang mens voel as jy besef dat jy verantwoordelik vir iemand anders se lewe is. Ek dink elke ouer probeer maar die beste doen met dit wat hy het. Ek vra sommer nou omverskoning vir die ouers (insluitend my eie) wat ek gekritiseer het, vir my groot bek toe ek nie geweet het nie. Ma-wees kom nie met ‘n ‘manual’ nie. Jy kan lees tot jy blou is in jou gesig en alles in jou slaap kan herroep maar dit help jou net mooi niks as jy met daai kleintjie in jou arms sit nie. Jy maak maar soos wat jy goed dink. Behalwe vir die Dianay-dogtertjie-molesteer gedagtes wat my mal gemaak het was die ander mense se gekarring die grootste rede vir my amper-crack-episode. Ek kon nie meer nie en dis hoekom ek jammer sê vir die grootbek ‘ignorance’ wat ek voorheen in my kop rondgesleep het. Ek weet nie hoe om ‘n Ma te wees nie, ons figure dit maar uit soos wat ons aangaan. My Ma vertel vinnig dat sy ‘n k*k Ma is, en by ander mense se standaarde is sy seker. Sy’s defnitief nie die koekies bak en huiswerk tipe ma nie, ek dink ook nie ek gaan wees nie, maar ons kon nog altyd met haar oor alles praat en sy’t nog altyd geluister. Ten spyte van die foute wat sy gemaak het gaan sy nie met oogklappe deur die lewe nie. Sy is juis die een persoon wat my die beste raad gegee het na Dianay, en dit was om na my ‘gut’ te luister, en sover was dit nog elke keer die regte ding om te doen. So ek luister maar nou so bietjie na my ‘gut’ en vat ‘n ruskansie. Ek sal nog blogs lees en inloer so nou en dan, maar ek dink ek moet bietjie konsentreer op ander dinge sodat ek kan terugkom en beter hier kan konsentreer. Dis so soortvan ‘n nuwejaarvoorneme so ons kyk maar of dit een is wat hou. Nou moet ek nog net ophou rook.






Onlangse Kommentaar