Die Groot Trek

30 07 2009

So ons trek more.  Ek het nog nie alles klaar gepak nie, sal dit vanaand moet doen.  Van more af is ek ‘n Nylstromer.  Ek kan nie wag vir Dianay om bietjie meer spasie te hê nie.  Dan kan sy met haar loopring laat wiel want ons bly nie net meer in ‘n 7×6 meter hokkiekie nie. Ek sien so op na die uitpak, maar dit moet gedoen word en gou ook, ek wil nie bietjie bietjie uitpak nie, ek wil klaar kry.  So om my in die bui te kry…’n paar gunstelinge:

Diamond Ring van Bon Jovi

Aeroplane Jane van Karen Zoid

Call me when you’re sober – Evanescence

Tracy Chapman – Give me One Reason

Hallelujah – Alexandra Burke





Eendag as ek groot is…

29 07 2009

gaan ek met soveel gevoel soos Eva Cassidy kan sing…

As jy nie van haar weet nie, sy’t eintlik nogals ‘n hartseer storie.    Sy was nie juis bekend voor haar dood nie, maar so 4 jaar na haar dood het mense bewus geraak van haar musiek.    Sy’s in 1996 op 33 aan velkanker oorlede.   Het sy nie die ongelooflikste stem nie?

Lees meer oor haar by Wikipedia of hier.





Griffel

27 07 2009

Ek weet ek’s stadig maar ek het darem die huiswerk gedoen.  Dis bietjie dof, sorry.

Image0058





Fliekvlooi

23 07 2009

Die lekker van die lewe is dat daar altyd iets is wat my verbaas.  Ek het iemand op Facebook ontmoet wat in Nylstroom bly, en met die dat ons volgende naweek soontoe trek (ek is nog nie eers halfpad gepak nie, maar ons praat nie daaroor nie) het ons Facebookmaatjies geword.

Sy gaan letterlik 3 huise van ons af bly so dit is lekker om iemand daar te leer ken en ek is seker ons sal so gou as moontlik reel vir ‘n kuier sodat ons nie net mekaar se virtuele sye ken nie.

Haar seun het outisme.  Ek weet nie verskriklik baie van kinders met outisme nie.  Soos wat ek op Facebook kan aflei probeer sy haar beste om sy lewe vir hom gemaklik te maak en haar lewe draai om hom.  Sy klink regtig vir my na ‘n baie goeie ma.

Aidan, haar seun, wil verskriklik graag Ice Age 3 gaan kyk.  Daar is nie teaters in Nylstroom nie, so sy soek toe ‘n teater in Pretoria of in Johannesburg waarheen hulle kan gaan om dit te gaan kyk.  Sy vra toe of daar Outisme-vriendelike teaters is?  Die probleem is dat haar seun verskriklik opgewonde raak en dan gil hy.  Ek het vir haar ‘n paar plekke se name deurgestuur.  Stiller flieks in kleiner winkelsentrums voorgestel.

Sy’t al ‘n paar teaters gebel en is deur almal weggewys omdat hulle nie wil hê dat die ander fliekgangers moet ‘complain’ nie.  By een van die plekke wat sy nou gebel het sal die bestuurder haar kwansuis terugbel om te laat weet of sy hom maar soontoe mag vat om te fliek.

My gat se deksel is dit:  Kom jy by ‘n fliek, worry hulle in elkgeval nie om die tieners wat kliphard sit en giggel en gesels te kom stil maak nie, maar hulle moet toestemming kry vir ‘n outistiese seun wat gaan opgewonde raak omdat hy vir die eerste keer in sy lewe gaan fliek.

Sy wil hom nie vat om te fliek net sodat hy gevra kan word om te loop nie, want dit sal meer hartseer wees as wat hy glad nie gaan nie en dit is hoekom sy eers gebel het om seker te maak.  Hulle kan hom tog sekerlik akkomodeer?





Koop eerder ‘n donkie

21 07 2009

Ek lees vanoggend hierdie berig op Beeld se webblad raak.  Wat dink jy?

By: Trou is nie perdekoop
Jul 20 2009 08:40:49:893AM  - (SA)

Rian van Heerden

Bly rein,” sê Angus Buchan, “bly rein en God sal jou ’n man gee wat jou sal koester” (hy het seker vergeet om by te voeg “of vrou”).

Hierbenewens, volgens koerantberigte, het Angus verlede naweek by die Royal Bafokeng-stadion in Rustenburg nog ’n “betraande” paartjie in die huwelik bevestig.

Dis nou buiten die 12 saamwoon-paartjies wat hy vroeër in Londen in die huwelik bevestig het (terloops, mág hy mense trou?).

Ou Angus, ek hoop jy het ook vir elkeen van hierdie paartjies ’n voucher vir ’n egskeiding gegee. Of ten minste ’n afslag…

Bly rein? Waar is ons? In Saoedi-Arabië? Wat is volgende – sluiers? Is hierdie die 1940’s? Moet ons blindelings trou sonder om enigsins ’n idee te hê waarvoor ons onsself inlaat?

Ek bevind myself die ander dag in ’n restaurant waar ’n kombuistee gehou word. Die gaste was reeds daar, ballonne en al, en het opgewonde gesit en kwetter oor die naderende huwelik en “hoe ’n goeie paartjie die tweetjies uitmaak”.

En toe daag sy op: die bruid. Natuurlik uit die veld geslaan deur die verrassingspartytjie. Sy’t met haar hand voor haar mond in die deur gestaan en dis net “My word! My word!”

Ek was net so uit die veld geslaan. Want sien, sy kon nie ouer as 22 gewees het nie. Wat de hel weet jy op 22? Het jy enigsins ’n cooking clue waaroor die lewe gaan, waarna jy op soek is in ’n lewensmaat en wie presies jy is?

Het jy al geëksperimenteer?

JJJ

Ek kon destyds, tydens my kortstondige loopbaan as prokureur op die egskeidingshof-beat, nie daardie eerste Vrydag by die hooggeregshof in Pretoria glo hoeveel mense daar wag om te skei nie. Dit het byna gelyk soos ’n Saterdagoggend aan die einde van die maand in Pick n Pay.

En as die bevel eers toegestaan was, was daar daardie blydskap: uiteindelik ontslae van die ander een!

Hoe was dit tog moontlik? Ja, sommige het geskei weens ’n derde party, maar daar is seker ’n rede waarom jou huweliksmaat vertroosting in die arms van ’n ander gaan soek, of hoe?

Die werklike rede vir egskeidings is tog voor die hand liggend: Ek het jou nie geken nie.

En nee, niemand “verander” net skielik nie; hierdie is nie ’n Harry Potter-fliek nie. Daardie tekens was altyd daar. As jy net jou tyd destyds geneem het om deeglik agter te kom met wie jy hier te make het, om vas te stel wie is hierdie persoon met wie jy bes moontlik die res van jou lewe gaan deel.

Kom ons sê dit weer sodat ek dit kan benadruk: die res van jou lewe.

As ons nie so bleddie haastig was nie, sou daar bes moontlik geen rede gewees het vir ’n huweliksvoorwaarde-kontrak nie, of hoe?

Hoekom sou ons dan so ’n “versekeringspolis” nodig hê?

Nou sal iemand seker antwoord: “Maar ’n mens weet nooit nie.”

Dis juis die punt: Jy móét weet! Vóórdat jy jouself in ’n huwelik begewe. Die ou mense was reg oor daardie “perdekoop” . . .

Daarom moet jy in die eerste plek met verskeie mense uitgaan. Verskeie. En as jy ietwat onseker is, gaan sommer ook uit met iemand van dieselfde (of teenoorgestelde!) geslag. Ja, ja, een op ’n slag! Sorg net dat jy veilig is.

En as jy eindelik iemand kry by wie jy intellektueel, emosioneel en seksueel pas, asseblief: Moenie nou gaan staan en trou nie. Bly saam so lank soos wat dit neem om elkeen van sy/haar geite, snaakse gewoontes, irriterende gewoontes, passies, drome, belangstellings en elke moesie en merkie op sy/haar lyf te leer ken.

Gaan sit dan ook met hom/haar en pak elke stukkie bagasie in hul tas uit – daardie wat al jare saam met hulle kom. Kyk watter julle kan weggooi en wat maar altyd daar sal bly.

Maak seker dat julle al saam gelag en veral gehuil het. Slaan ag op wat gebeur as daar iets gesê word, maar nog belangriker, as niks gesê word nie.

Maak seker jy weet hoe sy/haar asem in die oggend ruik!

En dan gaan word jy stil, op jou eie, iewers, ná ’n aantal jare, en jy vra jouself af: “Kan ek met al bogenoemde saamlewe? Vir die res van my lewe?”

En dan, en slegs dan: Dan trou jy.

Baie van dit wat hy sê maak vir my sin, maar dan wonder ek oor mense wat vir 40 jaar getroud is en dan eweskielik besluit om te skei?  Het hulle mekaar net ontgroei, of het hulle net gewoond geraak aanmekaar en toe besluit om dit te beëindig?  En ek wonder ook oor die feit dat hy self nie getroud is nie?  En ek wonder…





Kinders by D(eurk)osyne

13 07 2009

Party dinge kan ek net nie verstaan nie.  Daar is soveel mense wat smag daarna om ‘n babatjie te hê en dan kry jy mense wat die een kind na die ander een het en hulle verwaarloos.  Ek praat nie van finansieël sukkel nie, want ek dink mense wat kinders wil hê en dalk nie baie geld het nie sal ‘n plan maak om daardie kinders finansiëel te onderhou.  Een van die bediendes wat vir ons gewerk het op ‘n stadium het ‘n hartprobleem gehad.  Sy’t gewerk en haar twee kinders het nooit iets gekort en was altyd skoon.  Sy was seker een van die beste ma’s wat ek nog ooit gesien het.  Sy’t gelewe vir haar kinders en het gesorg dat hulle skoolklere het, dat hulle bad, dat hulle na gekyk is al het dit hoe swaar gegaan met haar. Baie mense kan by haar gaan leer.  Ek is nie ‘n perfekte ma nie, ek sal die eerste een wees om dit te erken, ek dink in elkgeval nie mens kry so iets soos ‘n perfekte ma nie, maar dit daar gelaat.  Ek probeer my gat af en sal enige iets doen vir Dianay.  Sy moes hierdie week by haar ouma kuier want die dagmoeder was toe en sy kon nie saam werk toe kom nie.  Dit was seker die langste 5 dae in my lewe.  Ek kon nie wag om haar weer te sien nie.  Sy’t so lekker gekuier en met haar sussie en die ander kleintjies gespeel.  Elke mens maak besluite vir sy/haar kinders gegrond op dit wat die beste vir hulle is, of dit wat hulle dink die beste vir hulle is.  Of dit nou is oor watter doeke jy gebruik, watse melk, die stimulasie wat die kind kry, inspuitings of nie.  Die verantwoordelikheid van daai besluite lê by jou en jy maak hulle volgens dit wat JY glo reg is omdat jy immers die kind se ouer is.  Ek het rerig gedink alle ouers tree so op, maar Saterdagaand het ek gesien ek was verkeerd.

Die vrou in die koerante wat haar viermaand oue baba versmoor, onder ‘n trok gelos het, en hom aan die brand gesteek het, spook die heeltyd by my.  Ek kyk na Dianay en ek kan dit net nêrens in my kry om te verstaan hoe jy so iets kan doen nie.

Die naweek is daar mense wat saam met ons kom braai het.   Die vrou is 22, haar eerste kind 2, haar tweede kind is nou 11 maande oud en haar drie stiefdogters is 16, 13 en 8.  Ek kan verstaan dat 5 kinders bietjie te veel is om na te kyk as jy so jonk is so ek het simpatie met haar.  Die een van 16 is in elkgeval die een wat meeste van die tyd na die kinders kyk, so ek voel eintlik die meeste vir haar, sy’s so jonk en moet tussen haar skoolwerk deur nog 4 ander kinders ‘grootmaak’ ook. Die drie meisiekinders is na hulle ouma toe vir die skoolvakansie so hulle is nie by gewees nie.

Hulle het die jongste baba op ‘n matras in die kombuis laat lê want dit is sy slaaptyd.  Elke keer as iemand kombuis toe gaan lê die kind op die vloer in die kombuis of in die eetkamer en skree.  Hy kruip nog nie, maar hy ‘leopard crawl’ deur hom aan sy arms op die vloer rond te trek.  Dan tel ons hom maar op, troos hom, en vat hom vir sy ma, net sodat sy kan opstaan en hom weer op die matras in die kombuis gaan neerlê.  Ek was later so bedonnerd omdat sy weier om na haar kind te kyk.  Ek het in die kombuis met hom gestaan en maar vir hom gesing tot hy bietjie bedaar het.  Die kind glimlag nooit nie, hy maak nie geluidjies nie, hy kan nog nie sit nie.  My hart is so seer vir hom.  Ek het nog nooit ‘n baba met sulke oumens oë gesien nie.  Dit lyk asof sy ogies al te veel gesien het vir sy ouderdom.  Sy sê vir my die kind is so vuil, want sy gaan hom nie skoon maak nie omdat hy in elkgeval net weer vuil word.  WAT DE DONNER?  Die snot stroom soos rivier oor sy gesig en sy sit.  Ek het later maar bietjie van Dianay se medisyne aangebied om dit bietjie op te droog en sy het dit darem aanvaar.  Almal wat daar was bly maar stil ter wille van vrede, maar ek weet nie hoe lank ek nog sal stilbly ter wille van vrede nie.  Hoe sê mens vir iemand op ‘n mooi manier dat jy dink hulle kan beter na hul arme kleintjie kyk wat op die vloer rondseil en skree terwyl jy lekker by die vuur sit en gesels?  Ek weet hoe ek voel as ander mense heeldag vir mens wil sê wat hulle glo die beste vir jou kind is, en ek verstaan dat mense dit gewoonlik net goed bedoel.  Soos wat ek dit goed sal bedoel as ek met haar moet praat.  Ek weet net nie hoe om dit op ‘n mooi manier te sê sonder om te wys dat ek eintlik briesend kwaad is en wens sy kan in haar kinders sien wat ons in hulle sien nie.  Die seuntjie van 2 is die mooiste mooiste kind.  Hy’s so vriendelik en lag so mooi.  Hy’s baie woelig, maar dis seker maar seuntjie.  Hy’s nie stout nie, net woelig.  Ek was Saterdagaand so kwaad, eintlik meer hartseer as kwaad, want ek wonder net watse toekoms daardie kleintjies het?

Ek weet ek is nie perfek nie, maar ek weet ook dat Dianay nie so sal lyk of behandel word as ek dit kan help nie.  Hoekom doen mense sulke goed?





Tyd vlieg

2 07 2009

Die tyd vlieg so vinnig verby.  Oor 2 en ‘n half maande is Dianay al ‘n jaar oud.  Ek kan dit nie glo nie.  Sy lyk so ougat met haar twee tandjies en sy lag vir alles.  Haar loopring is haar beste vriend en as ons by die huis kom in die aand en sy in die loopring is hardloop sy eerste na die stoof toe om met haar weerkaatsing te gesels. Alles is net dadadadada, sy klink soos ‘n masjiengeweer soos sy ddddaddddadddaddda.  Ek het ook nie geweet ek is so snaaks nie.

Die winter is aaklig met haar.  Sy was al ‘n paar keer siek en ek voel so sleg om haar te bad en aan- en uit te trek in die koue.  Ek het nou die dag weer na my baba foto’s gekyk en dit is ’scary’ hoe baie sy lyk soos wat ek gelyk het toe ek ‘n baba was.  Dit laat my altyd wonder of dit is hoe my ma gevoel het toe sy my gehad het.  Toe ek so oud soos Dianay was, was my ma al 4 maande swanger met my sussie.  My ma het altyd gesê die dag wat jy jou kind in jou arms vashou vergewe jy jou ouers baie dinge.  Ek het nie besef hoe waar dit was tot nou nie.

Anja Baba0001