DRUMROLL PLEASE

3 07 2008

Ons was toe gister by die dokter.  Dis ‘n ander ginekoloog as waarheen ons gewoonlik gaan.  Hierdie omie is oud.  Sy broek is tot so twee hande bo sy naeltjie opgetrek en sy das is ingesteek in die broek in.  Sy hare lyk soos Einstein s’n.  Hy’s baie vriendeliker as die ander dokter.  Hy wieg as hy met ‘n mens praat.  Ek het vir Didi gesê ek hoop net die dokter maak dit tot November toe sodat hy die baby kan vang. 

 

En dan vir die verwagte nuus.  Ons het alles probeer.  Stoffel is gekielie, geskud, mooi mee gepraat, maar niks.  Hy lê toe op sy maag en weier om om te draai.  Nou is ons vir nog ‘n maand in die duister oor hoe Stoffeltjie gaan piepie.  Ons gaan weer die 4de Augustus.   Ons het darem ‘n oulike sonar foto van sy handjie gekry.  Stoffel weeg al 380g.  Ek begin al hoe meer dink dis ‘n dogtertjie, sommer net omdat sy so hardegat is en niks wil weet van saamwerk nie.  ;)

O ja, die dokter sê ek gaan nie ‘n epiduraal kan kry met my rugprobleme nie, so dis of normaal kraam sonder ‘n epiduraal of ‘n keiser.  Ons dink nou maar mooi daaroor. 





Boy/Girl

2 07 2008

Vanmiddag gaan Stoffeltjie weer dokter toe vir sy foto.  Ons kon nie laas maand sien of dit nou Stoffel of Stoffelientjie is nie, so hou seblief duimvas dat ons vandag sal kan sien.  Ek kan nie meer wag nie, ek tel al die ure af.  Volgens die ouvroustories en bygelowe wat ek nou al raakgelees het, is dit ‘n seuntjie.   Stoffel dink nogsteeds my blaas is ‘n trampolien, en in die aande doen hy karate hier binne.

 

Mense glo darem maar snaakse goed.  Ek sal laat weet hoe dit gegaan het. 





Yip!

24 06 2008





Stoffeltjie

20 06 2008

Stoffel is nou al ‘n hele klein liniaal lank van sy kop tot by sy boudjies.  Wel, dit kan van haar kop tot haar boudjies wees.  ‘n Hele 15cm.  Stoffel is bietjie skaam en wou nog nie wys of hy gaan sit of staan as hy piepie nie.  Alles begin nou so werklik voel dit maak mens skoon bang.  Almal is so vrygewig.  Stoffel het al ‘n hele wardrobe.  Die oulikste kleertjies.  Alles is so klein ek kan nie dink dat daar ‘n klein mensie in daardie kleertjies moet pas nie. 

 

Sy Pa soek ‘n laaitie en sy sussie soek ‘n sussie.  Hopelik kan hulle met die volgende sonar sien wat dit is.  Ek begin so stadig opgewonde raak.  Die mense se kraamstories maak mens so bang, ek weet nie meer watter kant toe nie. 





Snif in die Neus kry

18 06 2008

Ek weet nie of hierdie artikel in die Beeld snaaks is en of dit hartseer is nie.  Snaaks omdat iemand so iets doen en hartseer omdat daar ander lande is waar mense gestraf word vir goed wat hulle verkeerd doen. 

Armholtesnuiwer tronk toe vir 14 jaar

Singapoer. – ’n Man met ’n fetisj om vroue se armholtes te besnuif is tot 14 jaar tronkstraf en 18 houe lyfstraf gevonnis.

Mohammed Ismail Ariffin (36) het ’n fiksasie om aan vroue te raak of te snuif, veral hul armholtes. Hy is skuldig bevind aan molestering van 23 vroue, het sy prokureur, mnr. Noor Mohamed Marican, gesê.

The Straits Times het berig Ariffin, wat matig gestrem is, het gewoonlik sy slagoffers in hysbakke aangeval.

Landdros James Leong het ’n voorkomende aanhoudingsbevel uitgereik wat beteken Ariffin kom nie vir parool in aanmerking nie. – Sapa-AFP





Die Grim Houtkappers

5 06 2008

My Oupa sê baie keer as hy hoor van nog ‘n vriend wat dood is, “Hulle kap nou in my bos”.  Hulle kap al ‘n rukkie lank in my Ouma en Oupa se bos.  Dood is iets waarmee ek nog nie regtig baie gekonfronteer is nie. Almal is seker maar bang vir die dood.  As mens jonk is dan dink mens nie so baie daaraan nie want dit gebeur “net met ouer mense”.  My Ma het vanoggend laat weet dat die toetse wat sy laasweek laat doen het teruggekom het en dat dit nie goed is nie.  Daar is kwaadaardige selle in haar baarmoeder en sy moet binne die volgende twee of drie weke vir ‘n histerektomie gaan.  Die idee dat my ma kan siek wees en dat ons haar kan verloor is een wat ek nog nooit regtig aan gedink het nie.  Sy’s my beste vriendin.  Sy’s 47.  Ek wil nie hê sy moet nou al gaan nie, maar wat ek WIL en wat gaan gebeur is twee heeltemal verskillende dinge.  Ek hoop maar dis nie so erg nie en dat hulle alles betyds kon keer.

 

 





Murphy is ‘n *&^*

2 06 2008

Murphy is ‘n *&^*.  Regtig.  ‘n Grote. 

Nes mens dink alles werk uit dan werk alles nie uit nie.  Die wasmasjien het gebreek.  Ek het hom laaste gebruik.  Die motor is heeltemal uitgebrand.  Ek het hom laaste gebruik. 

Die kar het gebreek.  Die ratkas het gegroet.  Ek het hom nie laaste gebruik nie. 

Murphy is ‘n *&^*.  Regtig.





Dankbaar

29 05 2008

Ek is vandag so dankbaar.  Dankbaar vir gebede wat verhoor is in die laaste paar maande.  Dankbaar vir mense in my lewe wat gehelp het wanneer ek nie meer weet watter kant toe nie.  Dankbaar vir klein goedjies wat so baie beteken.  Dankbaar vir alles wat ek het.  Met al die geweld en seer in die lewe is daar nog mense wat omgee en mense wat bereid is om te help waar hulle kan.

Ek wens ek kon ander mense se drome waar maak, bondeltjies vreugde uitdeel en help gesond maak waar dit seer is soos wat hulle soveel keer vir my doen.  Ek sê te min dankie.  Veral vir Krista en Jaco.  Dankie vir alles wat julle vir my gedoen het.  Ek bid dat julle gebede verhoor sal word, drome bewaarheid sal word en dat dit wat julle verdien uiteindelik die wag werd sal wees. 





PZN

21 05 2008

Soos wat ek deur die blogosfeer dwaal lees ek dikwels inskrywings oor die hele Steve-Natasha-Janine-ding.  Ek sien Janine blog nou by Bosparra.  Ek sien almal baklei oor en weer.  Elke kant stel sy saak en is op aanval en verdediging.  In die algemeen dink baie sy’s sletterig, ander sê sy’s misbruik.  Die Steve-aanhangers se reaksie teenoor hom wissel van teleurgesteld in hom tot die wat hom afgeskryf het (sommige van hulle nou “boesemvriende” met Janine), en dan natuurlik die wat nie sal ophou glo in hom en sy bedoelings nie. 

 

‘n Hele paar jaar terug het Bles Bridges ook groener weivelde gesoek.  Ek wonder wat mense se reaksie sou wees as hy daai tyd ‘n blog moes gehad het.  Ek dink dit sou seker min of meer dieselfde uitwerking gehad het.  Bill Clinton, Jimmy Swaggart… nog omies wat aan die oorkant van die pad gaan wei het. 

 

Blykbaar gaan Janine ‘n biografie uitbring.  Ek weet nie of dit net ‘n grap is nie, maar as dit nie is nie wonder ek net wie gaan dit koop?  Wie WIL dit lees?  Die hele storie is nou al klaar holruggery, selfs die media het nie veel meer om te sê nie.  As dit uitkom dat Steve wou gehad het sy moes ‘n aborsie hê, as hy haar misbruik het, haar wou verkoop aan reisende slawehandelaars, as hy wou gehad het sy moes net pienk dra, as sy skelm sy kinders geknyp het, as as as…Mense se opinies gaan waarskynlik nogsteeds dieselfde bly.  Steve gaan nie minder beroemd wees nie, hy gaan nogsteeds CD’s verkoop, nogsteeds geld maak, nogsteeds aangaan.  Gee mense werklik om wat gebeur het.  Wil mense die onbelangrike details hê?  Wil jy weet wie is die meer skuldige een, die swartste een, wie wat gedoen het vir hoe lank? 

 

Oom Bles het sy vrou verneuk en mense onthou hom op die ou einde nogsteeds.  Ek onthou die ander vrou se naam was Marietjie.  Wie sy was, of sy ‘n IK van meer as 70 gehad het, wat sy van gehou het, hoekom sy gedoen het wat sy gedoen het maak nie saak nie.  Ons onthou vir Bles.  Ons onthou sy rooi rose en Ruiter van die windjie.  Nou het Steve sy vrou verneuk en mense gaan hom ook bly onthou.  Janine se naam gaan ‘n vae herinnering word, mense gaan nogsteeds dronk word op die Bloubul en vrouens nogsteeds gil by Steve se shows.  Steve gaan nogsteeds die letsels van hierdie episode en sy operasie hê, petrol gaan nogsteeds duurder word, Natasha en Janine nogsteeds hartseer word en mense gaan nogsteeds Steve se naam gebruik om vir hulself ‘n paar rand in die sak te bring. 

 

 Ek kies nie kant nie, ek wens hulle altwee sterkte en voorspoed toe en ek hoop hulle het altwee lesse geleer uit die foute wat hulle gemaak het of nie gemaak het nie, of dalk gemaak het.  Ek wens net die storie wil nou heeltemal klaar raak.





Warning: Baby on Board

20 05 2008

Partykeer huil swanger vrouens omdat hulle wederhelftes die verkeerde kos of koeldrank gekoop het.  Partykeer as ‘n swanger vrou bemoerd is gooi sy haar wederhelfde met die rou wors wat sy nou net uit die pakkie gehaal het.  Die hele string.  En daarna huil sy omdat sy nie wil hê hy moet eendag vir die baba vertel dat sy hom met die wors gegooi het nie.  En dan bring hy vir haar koeldrank en sê hy sal nie sê nie.  En dan lief sy hom so bietjie meer.

 





Freedom se Exodus

19 05 2008

Eendag nie so lank gelede nie was daar ‘n jong man.  Sy naam was Freedom.  Freedom het in Rhodes se land gebly.  Die land was regeer deur ‘n nare Koning.  Koning Moeg Apie.  Koning Moeg Apie het in weelde gelewe terwyl die mense in sy land al hoe swaarder begin kry het.  

 

Hulle moes later mandjies vol geld vir ‘n brood veruil net om te kon oorleef.  Die koning het nie omgegee nie.  Hy het net aan homself gedink.  Hy het nie omgegee hoeveel mense doodgaan nie.  Hy het nie omgegee hoeveel mense seerkry nie. 

 

Freedom het gehoor van ‘n Suiderland waar daar kos was en waar mense bevry was.  Hy en sy vrou Mara het met hul jong seun, Peace, begin regmaak om na die land van vrede te gaan.  Hulle het dit wat nog van hul besittings oorgebly het in ‘n sak gepak en begin loop.  Hulle was honger en moeg toe hulle uiteindelik by die rivier kom en hulle die Suiderland kon sien.  Hulle het deur die rivier gesukkel en deur ‘n heining geklim tot binne in die land waar hulle kos sou hê.  Hulle het nie omgegee om nog een laaste aand honger te gaan slaap nie.  Peace het gehuil en hulle het hom getroos en seker gemaak dat hy warm is.  Dit was die laaste aand van sukkel.  Van hier af sou dit beter gaan.  Freedom en sy familie het in die stad aangekom.  Hulle was gou teleurgesteld dat dinge nie so wonderlik was soos wat hulle verwag het nie, maar dit was darem beter as om terug huis toe te gaan.  Hier was darem kos en so nou en dan ‘n los werkie vir hulle om te doen.

 

Die mense van Suiderland het nie baie van vreemdelinge gehou nie.  Hulle wou nie deel wat hulle gehad het nie en die koning van Suiderland en sy raadgewers wou nie ‘n plan maak om vir Freedom en sy mense te help nie.
 
Die mense van Suiderland het kwaad geword.  Freedom en sy familie is seergemaak.  Hulle moes vlug.  Mara en Peace kon wegkom.

 

  

 

 

 

Hulle moes ‘n nuwe plek soek om te bly.  Hulle wou gehad het Freedom moes saamkom, maar van die Suiderlandse mense het besluit hy moes bly.  Hy moes ly vir ander mense se foute, besluiteloosheid en gierigheid.  Freedom is doodgemaak.  Niemand het vir altyd verder gelukkig gebly nie.  Niemand nie.  

 

 

 

 

 

 

 

 





Orgaan Orkaan

15 05 2008

Sy sê vanoggend “Daar is nie ‘n manier wat ek ooit organe sal skenk nie”.  Haar antwoord to ek wou weet hoekom nie.  “Ek is te rassisties.  Hoekom moet ek een van my organe gee sodat ‘n kaffer langer kan lewe?”

 

Ek het nie geweet wat om te sê nie.  Ek weet gewoonlik nie wat om te sê as ek nie saam met mense stem nie.  Ek bly maar stil en hoop dat ek die een is wat beter weet. 

 

Ek is grootgemaak in ‘n huis waar mense nie rassisties was nie.  My ouers is nie rassisties nie.  My grootouers dalk.  Ek was nooit rassisties nie.  Ek wonder of die gepropageerde vlaag van nuwe ‘nasionalisme’ vir die nuwe Suid-Afrika wat ons almal probeer deel het nie stadig besig is om weg te kwyn nie.  Elke plaasmoord, elke tienerdogter wat verkrag word, elke baba wat doodgeskiet word op haar ma se skoot, elke ouma en oupa wie gehang word… laat my voel asof ek wil-wil regs draai op hierdie pad wat ons ‘versoening’ noem. 

 

Is dit omdat daar meer swartes in hierdie land is dat dit voel asof ‘almal’ geweldadige verkragters en moordenaars is?  Ek haat dit om elke sekonde oor my skouer te loer en te wag vir my beurt om verkrag te word, beroof te word, vermoor te word.  Ek het myself nog nooit beskou as ‘n rassis nie.  Ek wil nie rassisties wees nie.  Dalk is my idee van iemand wat rassisties is verkeerd.  Ek dink ons almal is in ‘n mate rassisties.  Dis myns insiens net natuurlik vir soort om soort te soek. 

 

Ek wil nie treinspore opblaas en in Skielik in ‘n plek instap en mense begin doodskiet omdat hulle van ‘n ander ras is nie.  Ek wil niemand seermaak nie, ek wens niks slegs vir iemand anders toe nie.  Ek wil net kan slaap in die aand sonder om twee keer seker te maak dat al die deure gesluit is.  Ek wil met ‘n oop venster op ‘n somersdag by ‘n verkeerslig stop sonder om te wonder wat hulle nou gaan gryp.  Ek wil ophou om my selfoon weg te steek en seker te maak alles is weggebêre as ek ‘n swart man in die stad sien aanloop na my kant toe.  Ek weet dis nie net swartes wat steel, moor, verkrag, afbreek nie.  Ek weet dit.  Ek wil gee.  Of dit nou ‘n orgaan is, geld is, kos is, enige iets wat ek kan.  Ek wil net nie hê dit moet afgevat word nie.

 

P.S.  Ek is geregistreer as ‘n orgaanskenker.  As jy meer wil uitvind, gaan loer gerus hier.





Humor

13 05 2008

Ons Afrikaners is darem ‘n snaakse nasie.  Die vreemdste sin vir humor.  Maak nie saak hoe groot die krisis of probleem nie, daar word altyd ‘n grap van gemaak.  Nou dat ek daaraan dink is dit waarskynlik nie net ons nasie nie, maar ander ook. 

 

  • Ek onthou ‘n paar jaar terug was daar vloede in Mosambiek.  Die mense het in bome gesit en ‘n vrou moes selfs in ‘n boom kraam.  Mense het grappe gemaak en gevra wat groen met baie oë is.  Die antwoord was ‘n boom in Mosambiek. 
  • Toe Prinses Diana dood is het mense gevra wat die laaste drankie was wat sy geniet het.  ‘n Harvey Wallbanger.
  • Ek sien nou weer met die dat Steve Hofmeyr in die hospitaal was met sy operasie.  Die sms’e kom nou weer deur wat bevestig dat Steve regtig ernstig siek was omdat net twee van die verpleegsters swanger is. 
  • Met die Jurie Els - Robbie Klay stories was daar so baie grappe gemaak.  Jurie kon nie sing nie want hy’t Klay in sy mond gehad ens. 

Daar is grappe oor die situasie in Zimbabwe - Mugabe gaan die Blou Bulle afrig sodat hulle nie hul telling aan die einde van ‘n wedstryd bekend hoef te maak nie.  Daar was grappe oor Jacob Zuma en sy storteskapades.  Grappe oor Osama Bin Laden, oor tsunami’s. 

Ek wonder of ons dit opsetlik doen.  Of dit ‘n situasie minder ongemaklik maak as mens ‘n grap daarvan maak?  Smeer dit ‘n probleem toe of maak dit alles net makliker om te hanteer? 

 

 





Brief in, brief out

21 04 2008

Hopelik het ek nou klaar gemoan vir ‘n rukkie.  Dinge gaan bietjie beter.  Ek kan asemhaal. 

 

Die baba kom in November as alles goed verloop.  Omdat ons nog nie weet of dit ‘n hy of ‘n sy is nie, heet die dingetjie vir nou Stoffel.  Die ander helfte wil die horries kry as ek na die baba as Stoffel verwys, maar dis nou maar hoe dit is.  As my ma bel vra sy hoe dit met Stoffel gaan.  Ons het die naweke op name besluit.  Dis waarskynlik nie vir almal ewe mooi nie, maar ons het gecompromise sover op twee meisie en twee seuns name. 

Meisiename:  Tatiana Azaria

Seunsname:  Kenrick Matthew

 

Soos wat ek myself ken gaan die name nog ‘n duisend keer verander voordat Stoffeltjie sy/haar opwagting maak.  Stoffel is veronderstel om al meer as 3cm groot te wees.  Behalwe vir die feit dat ek ooremosioneel is en dat alles stink (koffie, pasteie, kos, petrol, enige iets) verloop alles goed.  Ons het Stoffel se hartklop gehoor toe ons laas maand by die dokter was.  Dit was amazing.  ‘n Hele 141 “beats” per minuut. 

 

Wat moet gebeur, sal gebeur.





The Great Escape

11 04 2008

Hierdie blog was vir so lank my uitlaatklep.  Een wat ek vir die laaste ruk verskriklik afskeep.  Ek is jammer.  Persoonlike blogs wat net gaan oor ‘n gekerm oor hoe sleg die lewe is werk nie vir my nie.

 

Ek dink ek maak reg om oor ‘n paar maande ‘n enkelma te wees.  Ek is moeg.  Dit gaan kak by die huis.  Ek kan nie dink hoe om dit mooier te stel nie.  Sal ek my kind ‘n onreg aandoen om te loop?  Sal ek goed genoeg vir hom/haar kan sorg?  Dinge gaan rerig nie goed nie en ek weet nie wat om te doen nie.  Ek is besig om my escape te beplan vir die einde van die maand (Dit klink verskriklik om dit so te stel).  Ek kan nie nou loop nie, moet wag vir my salaris.  Ek is doodmoeg en verby gatvol.  Kan ‘n mens regtig iets laat werk wat nie meer reg voel nie?  Iets wat jou stukkie vir stukkie doodmaak elke dag?  Dalk is ek besig om te oorreageer.  Moet ek nie maar wag en dinge probeer uitsorteer nie.  Ek weet dit sal nooit werk nie.  Ek kan nie vir iemand anders sorg wat nie ‘n plan wil maak om by te dra nie.  Ek kan nie die enigste verantwoordelike, rasionele persoon in ‘n verhouding wees nie.  Ek voel soos ‘n dier in ‘n hok wat nie kan wag om te ontsnap of vrygelaat te word nie.  Ek sal nie vir ‘n aborsie gaan nie.  Ek weet nie watter kant toe nie.  Ek wil nie loop net om omgepraat te word en later weer terug te gaan nie.  As ek gaan moet dit klaar wees, verby wees, finaal.  Ek wil asem haal.  Ek versmoor.  Enige iemand met raad?  Ek dink ek weet seker klaar wat ek moet doen, ek soek seker net confirmation of dalk ‘n goeie uitskel om my by te kry?  Enige iemand?





Hoekom?

27 03 2008

Ek weet ek blog te min.  Heeltemal te min.   Met die nuus van die baba wat oppad is is my kop heeldag besig.  Eintlik dink ek moet net die nuus ignoreer.  Dit onstel my verskriklik.  Die hele Sheldean Human storie wat nou weer so in die nuus is en dan ook die volgende artikel deur Francois Oosthuizen in die Beeld:

6 keer lewenslank ná hy sy dogter verkrag:

Die man wat sy sesjarige dogtertjie oor ’n tydperk van vier jaar verkrag en foto’s daarvan geneem het, is gister in die Johannesburgse hooggeregshof tot ses keer lewenslange tronkstraf gevonnis.

Hy moet ’n bykomende 14 jaar tronkstraf uitdien vir onsedelike aanranding, oortredings van die Film- en Publikasiewet en crimen injuria.

Regter Naren Pandya het in sy uitspraak uit verskeie hofsake aangehaal en gesê verkragting is ’n kanker wat die samelewing verteer. “Dit is verskriklik dat kinders nie veilig is om vry en sonder vrees te leef nie.”

Volgens Pandya was die man se sielkundige verslag kripties en deurmekaar en kon dit nie tot versagtende omstandighede bydra nie.

Die man beweer in dié verslag hy is as kind verskeie kere gemolesteer deur die huismoeder van die kinderhuis waar hy gebly het.

Dit kon nie bewys word nie.

“Selfs al kan die beskuldigde se misdade aan sy verlede gekoppel word, verklaar dit nie hoekom hy foto’s van die seksuele misdrywe geneem het nie,” het Pandya gesê.

Die voorvalle, wat tussen 2002 en 2006 plaasgevind het, is deur die meisie se ma afgeneem en die foto’s daarvan is op DVD gestoor.

Die ma, wat op dieselfde aanklagte tereggestaan het, het intussen ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.

Dit was nie die eerste keer dat dié man hom aan seksuele misdade skuldig gemaak het nie.

Hy is in 1990 skuldig bevind aan die onsedelike aanranding van sy dogter (6) uit ’n vorige huwelik.

Volgens die meisie se pleegma is hulle tevrede met die hofuitspraak.

Sulke artikels ontstel my geweldig erg.  Ek is bang ek sal nie my kinders kan beskerm teen iemand wat hulle onskuld so wil wegvat nie.  Hoe beskerm mens jou kinders?  En hoe doen mens dit sonder om oorbeskermend te wees?  Bid?  Baie bid?  Ek word naar as ek sulke goed lees.  Ek kan net nie verstaan watter tipe mense sulke goed doen nie.  Ek wonder of ‘n mens veronderstel is om te verstaan.  Dis vir my verskriklik dat die meeste van hierdie molesteerders en verkragters beweer dat dit met hulle ook gebeur het as kinders.  As jy dan weet hoe dit voel, hoekom doen jy dit dan?  Hoekom, hoekom, hoekom.





1+1=2 (UPDATE)

12 03 2008

Daar was 2 strepies…

test.jpg

 

Ek is baie deurmekaar.

 

Update:

Die dokter het vanoggend die uitslae van Vrydag se bloedtoets gegee.  Dit is bevestig.  Ek was Vrydag net oor 5 weke swanger.  Dit sink nou eers in. 





‘n Kwart Eeu

10 03 2008

bd.jpg

Ek weet nie of ek moet lag of huil nie…





Vinnige Vraag

4 03 2008

Net gou ‘n vinnige vraag.  As jy weet iemand se man verneuk hulle, en dis net ‘n kennis van jou, is jy veronderstel om dit vir hulle te sê, of moet jy eerder nie inmeng nie.  Sou jy wou weet? 

 questionmark.jpg





Stink jy of bloei jy?

26 02 2008

Ek weet mens moenie kla nie, maar… Ek is so gatvol vir die advertensies op TV.  Ons het nie die ‘luxury’ van DSTV nie, so SABC en E-TV moet maar doen.  Ek het darem nou al geleer om nie te eet voor die TV as daar ‘n advertensie opkom nie, want jy is amper gewaarborg om een van die volgende te sien:

  • ‘n Klein Sjinees op ‘n toilet wat aangaan oor hoe hy stink.
  • ‘n Vrou wat tampons of doekies adverteer terwyl sy in ‘n wit broek rondspring.
  • ‘n Advertensie vir ‘erectile dysfunction’ waar ‘n vrou haar man by die huis uitjaag omdat hy nie ‘kan’ nie. 
  • Een of ander simulasie van ‘n baba se doek en hoe absorberend dit kan wees vir nommer een en nommer twee.
  • Een of ander maergat girl wat ‘poefiepap’ of Bioslim adverteer. 
  • Sms-klubs met allerhande ‘crap’ wat jy kan aflaai - van foto’s tot die geluid van ‘n baba wat poep of huil.
  • ‘n Deodorant wat vrouens soos vlieë na mans toe lok.
  • ‘n Lakseermiddel advertensie waar iemand aangaan oor hoe ‘regular’ hulle is vandat hulle hierdie middel gebruik.  Dis amper so erg soos die ‘poefiepap’.
  • ‘n Dansende meerkat.
  • ‘n Pizza-vretende ‘cartoon’ gesin met vreemde aksente.

Ek voel al asof die hele land bloei, huil, baba’s het, kokkerotte het, stink, nie kan toilet toe gaan nie en nie kan seks hê nie.  Make it stop.

Daar is darem seker ‘n paar goeie advertensies ook.  Ek is mal oor die Savanna-advertensies (It’s the peanuts, they’re complimentary).  Ek is seker daar’s nog ‘n paar goeies as ek mooi dink.  Ek sukkel net om oor al die wat my irriteer te kom.  Ek onthou ‘n hele paar jaar terug was my gunsteling advertensie ‘n Volkswagen een met die Volla en een van Andre de Villiers se songs (ek dink).  I remember the days of my life, I recall new faces, mostly yours… daai een. 

Ek kom toevallig op hierdie ou advertensies af - ek neem aan dis Amerikaanse advertensies:

ad3.jpgad5.jpg

Die advertensies daardie tyd was seker ook nie veel beter nie.  Hier is ‘n paar ou Suid-Afrikaanse radio advertensies.