WIEGELIED
22 02 2008
My baby,
Dis vandag presies 6 jaar terug dat jy van my weggevat is. Ek verlang na jou al het ek nooit kans gehad om jou vas te hou, jou te ruik, jou toe te draai en beskerm nie. Ek het al gesien hoe ek na jou kyk as jy slaap en dankie sê dat jy myne is. Dis ‘n vreemde soort verlang. Mense verstaan nie. Dis ‘n alleen verlang. Dis ‘n verlang wat my laat huil as ek iemand anders se baba vasgehou het. Dis ‘n verlang wat my hart laat pyn as ek ‘n baba in die winkel sien. Jou Ouma het toe sy uitgevind het dat jy nie meer binne my groei nie probeer troos en gesê ek moenie bekommerd wees nie, ek sal weer swanger word en weer kinders kan hê. Die troos het nie veel gehelp nie. Ek het haar gevra hoe sy sou voel as een van haar 4 kinders moet doodgaan en iemand probeer troos deur te sê daar is darem nog 3 ander oor. Seker nie heeltemal dieselfde ding nie, maar seer bly seer, dood bly dood, verlang bly verlang. Ek was so opgewonde toe ek uitvind dat jy in my groei, opgewonde en bang. Ons het vir jou ‘n kot gekoop, die mooiste hout kot en alles begin regkry, al was dit nog lank voordat jy gebore moes word. Jou pa het gehuil toe ek uit die hospitaal gekom het na die miskraam. Ons is nie meer saam nie, vir die beste. Ek kan nie glo dis al 6 jaar terug nie. Daar is soveel wat ek vir jou wou leer, soveel wat ek vir jou wou sê, soveel wat ek vir jou wou gee. Ek raak altyd hartseer hierdie tyd van die jaar. Die dokters het dit ‘n Spontane Aborsie genoem. Ek kon daai woorde nie vergeet nie. Dit het soveel erger as miskraam geklink. Dit het my laat voel dat als my skuld was.
Mense sê “Get over it”, vergeet daarvan, God se planne is duister, dit het vir ‘n doel gebeur. Ek knik maar net my kop. Niks kan verander wat gebeur het nie, ek kan dit nie beter maak nie, niemand kan nie. Ek wil huil oor jou as ek so voel. Soos nou… Ek hou al solank vas aan die seer en nie huil en vrede maak nie omdat mense my laat voel het ek mag nie oor jou huil nie, ek moet sterk wees, ek mag nie voel nie. Ek voel vandag ek wil klaar oor jou huil en ek wil laat gaan. Ek sal waarskynlik nog so nou en dan huil, ek sal elke jaar jou weggaan onthou, ek sal altyd weet dat jy daar was. Ek kan net nie meer bly terugdink en myself verwyt oor wat ek verkeerd moes gedoen het om te verdien wat gebeur het nie, ek wil hierdie hoofstuk afsluit.
Rus sag my baby, ek lief jou en mis jou,
(amper)Mamma
Comments : 17 Comments »
Categories : Uncategorized



















Recent Comments